’n Langebaan-bierbrouery se swartbier is onlangs met goud vereer en blyk werklik so lekker soos moedersmelk te wees.
Hugo Roux en Elmien Gotsell, mede-eienaars van Black Eagle Brewing Company, is in hul noppies ná hul bier, genaamd “Moedersmelk” met goud by die tweede National Beer Trophy vereer is.
Dié geleentheid is by Beer House in Langstraat, Kaapstad gehou.
“Dis ’n lekker bier. Daar is die idee van wat ’n swartbier is – donker en bitter, maar mense is aangenaam verras deur Moedersmelk,” sê Roux.
“Weskus Brekfis”, die brouery se gewilde witbier, is ook ingeskryf.
Twintig goue medaljes is Donderdag 22 September oorhandig met 95 biere van reg oor die land wat meegeding het. Black Eagle was een van die jongste brouerye by die kompetisie.
Roux en Gotsell het reeds Daisy Inc. bedryf voor die brouery. Dié maatskappy maak gespesialiseerde handelsprodukte.
Gotsell sê die besigheidservaring het die uitdaging om ’n nuwe besigheid in 2014 te begin, minder vreesaanjaend gemaak. “Ons het ’n ware passie vir bier. Die werk het nie die eentonigheid van daagliks na ’n kantoor gaan nie. En ons het geslaag om Langebaan se eerste brouery te open,” vertel Gotsell.
Die twee-persoonspan, bygestaan deur ’n assistent, brou, bottel, etiketteer en verpak self hul biere. Hulle glo die goeie plaaslike ondersteuning, ’n eg Weskus-aanslag, gehalte produkte en sosiale media help saam om die brouery aan die gang te hou.
Die bestandele vir die Black Eagle – vernoem na die bekende witkruisarende in die dorp – se vier biere, asook die verskeie seisoenale biere, word ingevoer met “net die water wat plaaslik is”.
By die perseel in Suffrenstraat word maandeliks 1 200 liter bier vervaardig. Produksie word eersdaags na 2 000 liter per maand opgestoot danksy ’n nuwe fermentasietenk.
Die proelokaal is slegs Vrydae (12:00-18:00) en Saterdae (11:00-17:00) oop.
Mense wat wel met een van hul biere in die hand wil kuier kan omliggende restaurante wat Black Eagle aanhou, besoek. Dit is ook te koop by een van die drankwinkels, soos gelys op hulle Facebookblad.
“Ons wil Langebaners se dors les, maar wil beslis ook in die Weskus groei. Ons glo meer kompetisies en meer medaljes wag.” Bel hulle by 072 884 8299 of besoek www.bebc.co.za.