Sestien jaar lank help Madeleine van der Merwe jong gimnaste tuimel, tol en spring, danksy Langebaan Stars.

Van der Merwe het sedert tweejarige ouderdom ballet en ander danssoorte beoefen. Sy het in die 1990’s begin met die onderrig van gimnastiek en het ’n klub in Oos-Gauteng geopen. “Ek het die klub in Langebaan in Oktober 2006 geopen. Vandag is ons twee afrigters – ek en Bianca Pholman. Bianca is ’n afrigter en ’n beoordelaar vir akro-gimnastiek en parkour. Sy is ook die klub se veiligheidsbeampte,” sê Van der Merwe.

Benewens haar jare se ervaring het sy ’n graad in opvoedkunde terwyl Pholman ’n diploma in sport- en afrigtingswetenskap het.

’n Basis vir ander sportkodes

Gimnastiek is ’n sportkode met vele onderafdelings, wat beteken ’n gimnas kan verskillende soorte gimnastiek beoefen. Van der Merwe sê gimnastiek is dus een van die sportsoorte wat soos ’n basis gebruik kan word om baie ander sportkodes te beoefen. “Gimnastiek bestaan deesdae uit agt verskillende dissiplines – ritmies, akrobate, tuimel en trampolien ensovoorts, asook die nuutste, parkour.

“Langebaan Stars bied ’n algemene gimnastiekklas aan wat die meeste dissiplines dek,” sê sy.

Die plaaslike klub is veral bekend vir sy goeie uitslae in items soos akro, ritmies en tuimel / trampolien.

Gimnaste het sedert die stigting van die klub aan verskeie nasionale en Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem en heelwat podiumposisies behaal. Talle gimnaste het oor die jare provinsiale en streekkleure verwerf, veral vir akro-gimnastiek en ritmiese items.

Van der Merwe noem sommige van die klub se hoogtepunte. “Ons het in 2013 aan ’n internasionale kompetisie, die ‘Gym for Life’-uitdaging, deelgeneem. Ons gimnaste was derde in ons afdeling. ’n Klomp ander lande het ook hieraan deelgeneem. Ons het in 2018 ook aan Dans in jou taal, wat op DStv uitgesaai is, deelgeneem.

“Die klub het deur die jare baie ontwikkelingsgimnaste gehad wat die klub se naam hoog gehou het en waarvan talle goud by die Suid-Afrikaanse Gym-spele behaal het. Die klub het ook baie toekennings vir die provinsie vir onder meer beste klub vir ritmies en akro-gimnastiek verwerf.

“Ons doen ook gereeld die Madiba Cup-byeenkoms, wat tuimel en trampolien bevorder en waar ons ook al goud, silwer en brons verwerf het,” vertel Van der Merwe.

Kinders en sport

Van der Merwe meen dit is belangrik vir kinders en jongmense om sport te beoefen, want dit help spelers om soveel verskillende vaardighede aan te leer.

“Sport is baie belangrik in enige mens se lewe, veral in die vormingsjare vir ’n kind. Dit is so wonderlik om ’n kind te sien wat so passievol is oor wat hy / sy doen – van die jongste, wat ongeveer drie jaar oud is, tot die 17-jariges, wat voor hul grootmenslewe staan.

“Sport is nie net fisiek en aktief nie, maar het ’n emosionele voordeel ook. ’n Onafhanklike klub is belangrik sodat kinders wat deesdae by die huis skoolgaan, sport kan beoefen. Dit is belangrik vir sosialisering,” sê sy.

Gimnastiek het ook sy eie spesifieke voordele. Kinders wat dié sport beoefen, leer groot en klein motoriese bewegings en hoe om bewegings op die maat van musiek uit te voer – soms met apparaat.

Van der Merwe glo dit maak die sport dus belangrik vir lewensoriëntering en buigsaamheid, en het sterk arms, bene en rug tot gevolg. “Dit kan ook vir ander sportsoorte en vir dissipline in ’n mens se lewe help. Gimnastiek is nie net ’n sport nie – dit is ’n leefwyse.”

Gimnastiek en die pandemie

Sport was een van die eerste aktiwiteite wat tydens die pandemie gestaak is en talle klubs en organisasies sukkel steeds om aan die gang te kom.

“Die Covid-pandemie het die klub baie nadelig getref. Die klub was gesluit van die dag dat die president vlak 5-inperkings aangekondig het, en ek en Bianca was sonder werk. Dit was baie sleg vir die gimnaste ook, aangesien hulle nie verder kon oefen nie,” sê Van der Merwe.

Die inperking het gekom net toe die klub met voorbereiding vir ’n nuwe kompetisiejaar begin het.

“Ons is tot vandag onder streng protokol, hoewel sommige deur die Suid-Afrikaanse Gimnastiekfederasie verlaag is. Ons sportbeheerliggaam het ons ook baie in die moeilike maande ondersteun. Ek moet byvoeg – dit het almal in ons klub gesond gehou. Ons vertrou en bid dat die pandemie gou verby sal wees en dat ons met ons werk sal kan voortgaan.”

Ten spyte van uitdagings sien Van der Merwe uit na ’n blink toekoms vir die plaaslike klub.

“Ons wil vanjaar weer begin met ons Mini Stars-groep, wat op drie- tot vyfjariges gemik is, en die kinders ‘speels’ deel van die gimnastiekwêreld maak. Ons begin ook weer in alle erns met ons kompetisieprogram vir sewejariges en ouer, met ’n baie opwindende, maar vol program. Ons wil nader aan die tweede termyn ’n satellietklub van Langebaan Stars in Hopefield open.”

Belangstellendes kan die klub op Facebook besoek of Van Der Merwe by 082 811 8118 bel of stuur e-pos na langebaanstars@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.