Ronaldo Swarts van Langebaan kloof deur Vredenburg se verdediging. Swarts het ‘n driekuns drieë teen Vredenburg behaal. Foto: Inge Titus

David Rossouw

Die derbystryd tussen Langebaan en Vredenburg het Saterdag (31 Mei) op die Langebaan-sportterrein plaasgevind en die aksiebelaaide stryd tussen twee buurmanne het die skare van die afskop af gaande gehad.

Die Burg Boys het die wedstryd teen ‘n hoë tempo begin en hul vlugvoetige agterlyn het onmiddellik Langebaan se verdediging beproef. Jade Bester het die Burg Boys se eerste drie gedruk en die telling tot 5-0 geneem.

Net goeie verdediging het verdere punte in die openingsfase verhoed, maar Bester het weer eens sy krag en vernuf getoon toe hy sy tweede drie gaan druk het, wat deur Waylen Meyer verdoel is en die Burg Boys ‘n voorsprong van 12-0 gegee het.

Langebaan het egter begin momentum kry en Vredenburg tot foute gedwing, wat gelei het tot ‘n strafdoel deur Russel Smith, wat die telling tot 12-3 verklein het. Teen rustyd was die Burg Boys steeds voor, maar Langebaan het al hoe sterker deurgekom, wat niks goeds vir die Burg Boys voorspel het nie.

Ná die hervatting het Smith ‘n tweede strafdoel suksesvol oorgeklits (12-6), maar die Burg Boys het gou geantwoord met ‘n drie deur Curlain Genis, wat Meyer suksesvol verdoel het om die telling tot 19-6 te neem. Langebaan het onmiddellik teruggeslaan met Ronaldo Swarts se eerste van drie drieë, en Smith se suksesvolle doelskop wat die telling na 19-13 geskuif het.

Nog ‘n strafdoel deur Smith en ‘n tweede drie deur Swarts het Langebaan vir die eerste keer in die wedstryd die voorsprong laat neem (23-22). Swarts het sy driekuns afgesluit met uitstekende vaart langs die kantlyn af en die skare weens sy vaart op hul voete gehad. Smith het verdoel en skielik was Vredenburg op die agtervoet.

Die Burg Boys het koelkop gebly en hul bonusdrie behaal, maar kon egter nie Langebaan se voorsprong van 30-22 verbysteek nie.

Hoewel die Burg Boys ‘n laaste drie gedruk het, was hulle ‘n punt kort, en toe die skeidsregter aandui dat tyd verstreke is en sy fluitjie blaas, het Langebaan ‘n riller-wedstryd met 30-29 gewen.

Langebaan skuif nou na die vyfde posisie, een punt agter Saldanha, terwyl Vredenburg twee bonuspunte verdien, maar steeds in die sewende plek bly.

Langebaan-puntemakers:

Drieë: Ronaldo Swarts (3)

Doelskop: Russel Smith (3)

Strafskop: Russel Smith (3)

Vredenburg-puntemakers:

Drieë: Jade Bester (2), Curlain Genis (1), Ruan Kleinsmit (1)

Doelskop: Waylen Meyer (1), Nazro Cleophas (2)

Strafskop: Waylen Meyer (1

Wedstrydbepalings vir 7 Junie:

• Weskus

Velddrif t. Hopefield, Piketberg t. Saldanha, Steenberg Cove t. St Helena.

• Die res van die spanne rus. Ingevolge die Boland-rugbyunie se kompetisiereëls moet ‘n span een rusperiode hê voordat die tweederonde-wedstryde begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025