Langebaan (in blou) het laat in die wedstryd die agterdeur wawyd oopgegooi met ’n verdoelde drie.Foto: Murphy Roberts


Langebaan het Saterdag sy kanse om steeds onoorwonne in die Boland-grootuitdaagreeks te wees, in sy wedstryd in St. Helenabaai weens swak dissipline weggegooi.

Langebaan, wat die eerste helfte met die wind van agter gespeel het, het behoorlik gebiedsvoordeel geniet en was ook danksy twee strafskoppe 6-0 voor.

Die tuisspan moet egter krediet kry vir die manier waarop hy die druk van die besoekers verwerk het en is in die eerste helfte met ’n onverdoelde drie beloon. Langebaan het egter kort voor rustyd nog ’n strafskop oorgeklits en was rustyd 9-5 voor.

Die tweede helfte was egter ’n ander storie en ’n geelkaart vir die besoekers het die skaal in die tuisspan se guns geswaai. Die besoekers kon nie al die gate toestop nie en die tuisspan het die situasie behoorlik uitgebuit. Twee verdoelde drieë in dié tyd het die tuisspan gemaklik 19-9 laat voorloop.

Die 10 minute met 14 spelers het die besoekers 14 punte gekos wat hulle nooit kon inhaal nie. Langebaan het egter nooit opgegee nie en steeds verwoed die een aanval na die ander van stapel gestuur, net om weer besit weens swak dissipline prys te gee.

Langebaan het egter laat in die wedstryd die agterdeur wawyd oopgegooi toe die span ná ’n verdoelde drie die agterstand tot 16-19 gekrimp het. Langebaan kon egter in die laaste paar minute nie die wa deur die drif trek nie – danksy rotsvaste verdediging deur die tuisspan.

St. Helena, wat derde op die punteleer is, is ook steeds onoorwonne en pak eerskomende naweek die onoorwonne Vredenburg in ’n wegwedstryd.. Saldanha, wat tans die pasaangeër in die Weskus-streek is, het die span van Hopefield op laasgenoemde se tuisveld 41-6 getroef en pak Velddrif Saterdag in Saldanha.

Paternoster, wat verlede week behoorlik op die grafkelder afgeransel is, het die groen truie van Mamre in ’n gelykopstryd 21-18 getroef en pak ’n omgekrapte Langebaan.

Piketberg, wat hierdie seisoen die eerste keer in die Weskus-streek speel, gee ook goeie rekenskap en het Young Hearts van Pella 20-13 geklop en behoort voort te bou teen Hopefield die naweek.

Mamre sal die naweek op sy tuisveld die soet van ’n oorwinning in sy derby teen Young Hearts wil proe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025