‘n Velddrif-speler gee alles om sy opponente van Young Hearts te ontduik in dié spanne se kragmeting Saterdag. Velddrif het met 46-22 gewen. Foto: Alida Buckle

David Rossouw

Die eerste ronde van die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbekerreeks is verlede Saterdag (24 Mei) in drie streke – Swartland, Overberg en die Weskus – afgesluit. Die kompetisie het duidelik gewys dat die topspanne hul posisies nie as vanselfsprekend kan aanvaar nie, aangesien hul uitdagers op hul hakke sit.

Hoewel die voorlopers van die Swartland- en Weskusstreke steeds boaan hul onderskeie puntelere staan, bly die kompetisie fel en kan die rangorde in die komende wedstryde maklik verander. Geen span kan op sy louere rus nie, veral nie met die tweede ronde wat binnekort aanbreek nie.

Twee uitgestelde wedstryde vind eerskomende Saterdag (31 Mei) plaas: Langebaan teen Vredenburg en Riebeek United teen Voorberg.

Langebaan het onlangs met indrukwekkende rugby vorendag gekom, veral met sy oorwinning oor die voorheen onoorwonne Young Hearts, gevolg deur ‘n 43-27 triomf teen Hopefield. Dit maak sy komende stryd teen Vredenburg des te meer betekenisvol. ‘n Bonuspunt-oorwinning vir een van dié spanne kan ranglyste tussen posisie vier en agt aansienlik verander.

Die ontmoeting tussen Riebeek United en Voorberg sal geen groot verandering in die topvyf van die Swartlandstreek bring nie, maar Moorreesburg kan moontlik afskuif na die tiende posisie as Voorberg ‘n bonuspunt-oorwinning behaal.

Langebaan het die afgelope twee weke altesaam 76 punte aangeteken en slegs 38 afgestaan – ‘n teken van ‘n span in topvorm. Hy sal Vredenburg as ‘n taai teenstander beskou, met Vredenburg wat verlede naweek ‘n ruskans gehad het.

Statistieke wys dat Langebaan vyf van sy nege wedstryde teen Vredenburg gewen het en 56 punte meer as Vredenburg aangeteken het. Hy spog ook met agt bonuspunte, vergeleke met Vredenburg se vyf, wat sy strategiese voordeel in die komende wedstryde benadruk.

Net soos die Swartlandstreek ‘n opwindende eerste ronde beleef het, sal die Weskusstreek se laaste wedstryde ook die kompetisie na ‘n klimaks toe dryf. Die topvyf spanne hou die uitslae fyn dop ter voorbereiding vir die tweede ronde, waar strategie ‘n deurslaggewende rol sal speel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article