Die polisie het sopas aan Weslander bevestig dat die lyk wat gisteroggend agter die Laingville-krieketveld gevind is, die van Berodine Boyce (16) van Laingville naby St. Helenabaai aan die Weskus.
’n Nadoodse ondersoek is net na 10:00 vanoggend in Malmesbury gedoen.
Familielede van Boyce was ook teenwoordig om die lyk uit te ken.
Die polisie kon nog nie bevestig of die tiener meisie, ’n gr. 11-leerder aan Hoërskool Louwville, verkrag is nie.
Boyce is glo ’n kophou met ’n stomp voorwerp toegedien, wat haar dood veroorsaak het.
Sy was laas ná 21:00 in die Laingville-omgewing gesien en het swart-en-wit Nike-tekkies en ’n groen sweetpakbroek aangehad voor sy vermis geraak het.
Die Laingville-gemeenskap het gisteraand (Donderdag) in hul hordes opgedaag by ’n terugvoeringsvergadering. Daar is onder meer besluit om ’n buurtwag te begin.
Enige iemand met inligting word gevra om sers. Ernie Strauss van die St. Helenabaai-polisie by 079 894 0079 te kontak. Die nommer is 24-uur beskikbaar en alle inligting sal vertroulik hanteer word.