Dit is tyd om by jou gunsteling-slaghuis ’n draai te maak, want Nasionale Braaidag, wat hierdie jaar 20 jaar oud is, is om die draai!

Soos van ouds word die dag in saamloop met Erfenisdag gevier.

Nasionale Braaidag, ’n inisiatief van die gewilde braaimeester Jan Braai, het die eerste keer in 2014 die lig gesien en is begin met die uitsluitlike doel om die hele Suid-Afrika om die vuur bymekaar te kry en ’n gedeelde erfenis te vier.

Want ja, terwyl elkeen van ons uit verskillende agtergronde en kulturele groeperings kom, bly ons grootste erfnis dié van Suid-Afrikaner wees – ’n unieke volk wat ten spyte van die onregte van die verlede, wankelrige ekonomie, onstuimige politieke uitdagings en sosiaal-maatskaplike kwessies saam kan lag, saam kan huil, in moeilike tye die humor kan vind en wat altyd weer opstaan: ’n Veerkragtige nasie.

Met ’n veelkleurige vlag wat op Braaidag nuwe betekenis kry – die rooi vir al die tjoppies en braaivleis; die wit vir die sout; die groen vir die bierbottels wat die samesyn laat vloei; die geel vir die sonskyn waarvoor almal hoop op ’n dag waar daar behoorlik gebraai gaan word; en die swart vir die duisende stukkies braaikole wat aan die brand gesteek gaan word. Die blou in die vlag simboliseer op Braaidag steeds die blou lug en die eindelose geleenthede wat ons pragtige, diverse land ons bied.

Mag Weskussers Dinsdag 24 September saam met hul gunsteling-mense geniet, op ’n plek waarvan hulle baie hou en met die braaibroodjie van hul keuse.

Braaidag is die een dag wat ons gesellig saam om ’n knetterende vuur, saam aan die lag onder die Weskusson, kan verkeer.

You need to be Logged In to leave a comment.