Die Laaiplek-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) hou volgende Dinsdag (17 September) sy jaarvergadering om 18:00 in die Velddrif-stadsaal.
AO Adele Visser het benadruk dat alle gemeenskapsorganisasies genooi word om die vergadering by te woon.
Die GPF skep ’n belangrike platform vir rolspelers om saam te verseker dat die gemeenskap se behoeftes aangepak word.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet maak juis daarom voorsiening vir GPF’s om gemeenskapsorganisasies en die polisie in vennootskap saam te snoer om oplossings vir veiligheids- en sekuriteitskwessies te kry.
Die GPF bevorder ook samewerking tussen die partye om die gemeenskap teen misdaad te beskerm en dus ’n veilige omgewing te skep.
’n Tweede funksie van die GPF is om die plaaslike polisie se doeltreffendheid, verantwoordbaarheid en deursigtigheid as ’n burgerlike liggaam te kontroleer en te bevorder.
“Die toename in misdaad in ons gebied vereis dat ons almal moet help toesien dat die GPF die polisie doeltreffend bystaan om maniere te vind om misdaad te bekamp en met ons area-spesifieke probleme te handel,” het Visser gesê.
Alle belangstellende organisasies word gevra om as GPF-lede te registreer en ’n verteenwoordiger te benoem.
Die verteenwoordiger moet asseblief vóór die vergadering ’n aansoekvorm voltooi.
Die vorm kan tydens kantoorure by die Laaiplek-polisiekantoor by Judy Theron afgehaal word.