kykNET-program: Liané ’n uitblinker

Liané Holloway, ’n leerder van Longacres Privaatskool op Langebaan, het ’n algehele vyfde plek in kykNET Uitblinkers se sangkompetisie behaal.


Liané Holloway, ’n leerder van Longacres Privaatskool op Langebaan, het ’n algehele vyfde plek in kykNET Uitblinkers se sangkompetisie behaal.

Uitblinkers, onder leiding van An­thonie Bougas, besoek sowat 12 skole jaarliks en vanjaar was Longacres baie bevoorreg om een van dié skole te wees.

Uitblinkers se kameraspan het vroeër vanjaar die skool besoek en onderhoude met leerders en die personeel gevoer.

Sommige van die leerders het ook die geleentheid gekry om ’n klomp vrae aan ’n bekende Suid-Afrikaanse persoonlikheid te stel.

Die bekende in dié geval was Stefan Ludik, ook bekend as Elvis se Seun. Ludik gaan die betrokke vrae beantwoord in die volgende episode van Uitblinkers.

Daar is ook ’n aandkonsert gehou waartydens Longacres se kore, spreekkore en individuele sangers opgetree het.

Die tweede helfte van die vertoning was die Solis vir Christus-afdeling waar leerders van Longacres en omliggende skole as individue kon meeding in ’n sangkompetisie. Die wenner van die aand was Liané wat deurgedring het tot die finaal, waar sy puik presteer het.

Longacres Privaatskool, Liané en haar maats gaan op kykNET (DSTV-kanaal 146) wees dié Sondag (12 Junie) om 16:00 en ook op 13 Junie om 16:00.

You need to be Logged In to leave a comment.