Om ’n nuwe eiendom te koop, is ’n blye dag, maar oppas of jy “erf” dalk kopsere van die vorige eienaars.
Dit is wat met ’n paartjie van Saldanha gebeur het. Nicky en Amadeu Goncalves sê hulle sukkel reeds ’n jaar lank om ontslae te raak van ’n waterrekening van R24 000 vir een van hul erwe.
By navraag het Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, verduidelik ’n eienaar is en bly aanspreeklik vir munisipale rekeninge van die datum waarop hulle eienaarskap neem.
“Indien ’n eienaar ’n erf koop waar dienste-aansluiting reeds gedoen is, moet ’n heraansluiting om dienste-vorm voltooi en ’n deposito betaal word. Indien daar geen dienste-aansluitings is nie, doen die eienaar aansoek en betaal die koste ingevolge goedgekeurde tariewe,” sê sy.
In die geval van die Goncalves-paar besit hulle verskeie erwe langs mekaar. Hulle het aan Weslander verduidelik hul water- en elektrisiteitstoevoer word slegs vir een van die erwe verkry. ’n Probleem wat hulle egter het, is ’n waterpunt op die betrokke erf waar talle inwoners met kanne “gratis” water kom haal.
Aangesien hulle nooit ’n wateraansluiting gedoen het nie, is hulle nie verantwoordelik vir dié waterverbruik nie, voer hulle aan. Die munisipaliteit stem egter nie saam nie.
“Die watermeter was dus alreeds op die eiendom toe die huidige eienaars dit koop. Die vorige eienaar het nie afsluiting om dienste gedoen nie, en die huidige eienaar het ook nie aansoek gedoen vir dienste nie. Waterheffings, die basiese heffing en waterverbruik, het dus voortgegaan op die vorige eienaar se naam,” verduidelik Lawrence.
In September is die waterheffing van November 2022 tot Augustus 2023 oorgeplaas van die vorige eienaar se rekening. Bykomend is ’n water-deposito op die rekenings gehef.
Lawrence verduidelik inwoners wat hul munisipale rekening betwis, kan ’n herberekening van hul rekening aanvra.
Die dispuut moet skriftelik en met al die nodige besonderhede ingedien word. Intussen moet die rekening betaal word, wat deur die gemiddelde verbruik bereken sal word. Die munisipaliteit sal ’n ondersoek van stapel stuur met die resultate wat met die inwoner gedeel sal word. Daar is ’n appèlproses indien die bevindings nie na wense is nie.
“Die eienaar is en bly aanspreeklik [vir die rekening] van die datum van eienaarskap en moet ongemagtigde toegang self hanteer,” sê die munisipaliteit oor die Goncalves-geval.
Die Saldanhabaaiers meen egter dié verduideliking is nie korrek nie en
sê die eerste
watermeterlesing is
byna ’n jaar nadat hulle die eiendom gekoop het in September 2023 gedoen. Hulle
wend hulle nou na die kantoor van die Wes-Kaapse premier om hulp.

