Die Kuier Combo Koningskos is van Maandag 20 November af op winkelrakke teen slegs R40.
“Hierdie kombinasie is ekstra spesiaal want dit is die eerste keer dat Kuier ’n glanstydskrif op die rakke het. Dit is die ideale Kersfees geskenk vir familie en vriende,” verduidelik Curt Baker, Kuier se handelsmerkbestuurder.
Een gelukkige Weslander-leser kan in aanmerking kom om ’n kopie van die Kuier Combo Koningskos-glanstydskrif te wen. SMS die woord KOS met jou naam, van en dorp vóór Dinsdag 28 November na 33673.
Probeer solank hierdie resep vir Kweperhoender
Genoeg vir 4
Bestanddele
8-12 hoenderstukke
1 groot kweper
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
3 eetlepels botter
3 eetlepels olie
3 groot uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 x 3 cm knoets vars gemmer, geskil en fyngekap (of gerasper)
1 kaneelstokkie
1 eetlepel heuning
1 teelepel fyn komyn
½ teelepel borrie
½ koppie hoenderaftreksel
Sout en varsgemaalde witpeper na smaak
Metode
Halveer die kweper en verf die oop kant met ’n bietjie suurlemoensap.
Stoom vir 25 – 30 minute tot net-net sag. Laat eenkant om af te koel en sny dan in skywe. Verwyder die skil en stronk.
Verhit die botter en olie in ’n groot swaarboompot en verbruin die hoenderstukke in sarsies daarin. Haal die hoender uit en hou eenkant.
Braai die ui in dieselfde pot tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel en gemmer by en braai vir nog ’n paar minute. Voeg die kaneelstokkie en komyn by en braai vir nog ’n minuut of twee. Plaas die hoenderstukke terug in die pot, voeg die heuning, suurlemoenskil en -sap en borrie by. Roer die aftreksel by en geur met sout en peper. Rangskik die kweperstukke tussenin.
Laat vir ongeveer 30 minute prut.
Skep in ’n oondvaste bak. Rangskik die hoenderstukke met velkant na bo en plaas die bak onbedek in ’n voorverhitte oond van 200 °C, vir 30 minute.