Dit is maklik om die voorbereiding van jou motor vir die langpad af te skeep voor julle die pad vat vir die welverdiende ruskans.
Om seker te maak jou motor is reg is egter een van die noodsaaklike stappe om te verseker jou vakansie ontaard nie in ’n stresbol nie.
Hier is stappe om te verseker jou reis is ’n veilige een:
BEGIN SÓ: As jy nog nie het nie, begin deur jou motor se handleiding te lees. Wees veral bedag op jou diensskedule en maak seker alle dele wat nagegaan moes word, is nagegaan voor jy in die pad val.
DAN: Maak seker jou bande is nog in ’n goeie toestand. Bande raak verskriklik warm as dit heeldag op die pad is en dit kan maklik lei tot ‘n band wat bars as die bande verweer en oud is. Vervang jou bande as hulle oud is, en maak seker die sporing is reg.
EN: Vat jou motor na ’n werktuigkundige voor jy die langpad aandurf. Behalwe vir al die foute waarvan jy weet, sal die werktuigkundige jou ook kan sê of iets fout is of iets vervang moet word.
PSST . . . Maak seker daar is genoeg van vloeistowwe om jou motor aan die gang hou (koelmiddel, antivries en verkoeler- vloeistof).
ONTHOU: Vra jou werktuigkundige om volledig na te gaan of alle gordels ook nog in werkende toestand is.
MAAK SEKER: Vat jou spaarsleutels saam en dra dit altyd op jou persoon vir ingeval iets met die oorspronklike paar gebeur.
EKSTRAS: Maak seker jou spaarband is heel, asook dat jy ’n werkende domkrag het.
OOK NB: Maak seker alles in jou noodhulpsakkie is steeds bruikbaar.
ÉN: Gaan gereeld jou bande se druk na. Bande wat effe pap is kan maklik ’n kar se brandstofverbruik opstoot.
EN NATUURLIK: ’n GPS of enige navigasiestelsel is altyd van groot hulp, en dui die ligging van nooddienste, wat naby aan jou sal wees, aan.