Die Vredenburg/Saldanha-krieketklub het onlangs ’n skenking van Krieket SA ontvang wat reeds tot voordeel vir vele plaaslike leerders dien.
Die Krewe-krieketklub het lank reeds ’n naskoolse program om leerders met verskeie vakke te help. Oud-leerders help weekliks leerders en danksy hul nuwe School-in-a-box het die leerders ’n ekstra hupstoot gekry.
Volgens Dee-Lynn Carolus, wat aan die stuur van die naskoolse klasse is, maak die leerders gebruik van die geskenkte agt nuwe tablet-rekenaars vir skoolwerk. Die skenking van Krieket SA is reeds vir ’n maand in gebruik en Carolus sê die leerders het vinnig die sagteware bemeester.
Vir die Krewe se Louis Hartzenberg, onderwyser by Hoërskool Louwville, is die program ’n riem onder die hart. Hy meen die klub bied ’n geleentheid vir die gemeenskap om te groei en ontwikkel, buiten net deur die klub se krieket.
“Hierdie is ’n mylpaal vir ons en deel van die visie wat ons reeds in 2019 gehad het. Die jeugontwikkelingsprogram is vir die klub uiters belangrik, want dit gaan vir ons oor meer as net krieket,” sê hy.
Johan Weyers, senior krieketbestuurder van Krieket SA, het die Krewe vir hul werk geprys.
Die plaaslike naskoolse program met die School-in-a-box is volgens Weyers ’n toetslopie vir ander klubs en deel van die organisasie se idee om spilpunte by krieketklubs te stig.
“Die hoop is om krieketklubs tot voordeel van die gemeenskap te stig. Om dit ’n veilige plek vir almal te maak waar inwoners bymekaar kan kom en van waar gemeenskapsontwikkeling gedryf kan word,” sê Weyers.
Eerwaarde Courtney Sampson van Boland-krieket meen die projek by die Krewe-krieketklub is ’n manier vir plaaslike leerders om ’n voorsprong in hul opvoeding te kry.
“Om die agterstande in gemeenskappe uit te wis moet ons help om kinders die geleenthede te bied wat hulle verdien. Projekte soos hierdie skep ondersteuning vir leerders. Al wat hulle moet doen, is om die geleentheid met albei hande aan te gryp,” sê hy.
Hartzenberg meen die tyd wat die kinders by die klub deurbring, hetsy vir krieket of vir skoolwerk, moet ’n ligpunt in hul week wees, waartydens goed na hulle omgesien sal word.