Devon Smith, die kaptein van Vredenburg-Saldanha se eerste span, kom nader om te boul. Foto: Sonja Kruger

Die Vredenburg-Saldanha-krieketklub oftewel die “Krewe”, het die afgelope naweek hul krag en vaardigheid ten toon gestel met twee oortuigende oorwinnings teen Stellenbosch-krie-

ketklub se eerste en tweede spanne. Nadat die eerste span verlede Saterdag en Sondag twee wedstryde teen Wellington en Paarl-Oos verloor het, het die Krewe herstel en hul derde wedstryd gewen.

Die wedstryde, wat onder ideale lente-omstandighede in Stellenbosch gespeel is, het die Krewe se balans tussen kolf en boul duidelik uitgelig en hul posisie as een van die voorste klubs aan die Weskus bevestig.

In die eerstespanwedstryd het die Krewe 1 die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Die besluit het vrugte afgewerp toe

C. Villet die veld laat gons het met ‘n briljante beurt van 65 lopies met 34 balle.

Sy aanvallende spel het vier viere en vyf reuse-sesse ingesluit, wat die momentum vroeg aan die Krewe gegee het.

Hy is goed ondersteun deur Q. Kannemeyer, wat onoorwonne gebly het op 31 van 17 balle, en G. Hulley, wat ‘n geduldige 25 van 37 balle aangeteken het.

Die kolwers het saam ‘n formidabele 164/5 op die telbord geplaas, wat Stellenbosch van die eerste aflewering van hul beurt onder druk geplaas het. Stellenbosch KK 1 het met vasberadenheid

teruggeveg, maar kon nie die vereiste tempo handhaaf nie. P. Minnis het ‘n dapper 38 van 26 balle aangeteken, terwyl B. Layman met 35 van 32 balle probeer het om die telling aan die gang te hou.

Die Krewe se boulers het egter die druk behou, met T. Majebe (2/26) en J. Arendse (2/31) wat deurslaggewende paaltjies geneem het. Stellenbosch het hul beurt op 134/7 afgesluit, wat die Krewe ‘n oorwinning van 30 lopies besorg het.

In die tweedespan-wedstryd het Stellenbosch 2 eerste gekolf, maar kon nooit werklik momentum opbou nie. Hul kolforde het gestruikel tot 56/9 in hul toegelate boulbeurt.

Die Krewe se boulers het van die begin af druk toegepas, met A. Makaleni wat uitgestaan het met ‘n indrukwekkende drie paaltjies vir net agt lopies. A. Prins het ook ‘n sleutelrol gespeel met die bal en 2/17 in sy beurt geneem.

Met ‘n teiken van 57 lopies het die Krewe se tweede span kalm en bere-

kend gekolf. A. Prins het sy uitstekende dag voortgesit deur ook met die kolf te skitter. Hy het 31 lopies van 34 balle aangeteken, insluitend een vier en een ses, wat die fondasie vir hul gemaklike oorwinning gelê het. Die Krewe se tweede span het die teiken met 61/4 bereik en die wedstryd met selfvertroue afgesluit.

Hierdie dubbele oorwinning beklemtoon die Krewe se diepte in beide kolf- en boulwerk en sal die spanne sekerlik momentum vir die res van die seisoen gee.

Die eerste span se vertoning het nie net punte op die telbord geplaas nie, maar ook ‘n sterk boodskap aan mededingers in die Gemeenskapsbeker gestuur – dat die Krewe terug is in die wedloop en hier is om te wen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025