Vredenburg/Saldanha-krieketklub is ná twee eendag-ligawedstryde steeds onoorwonne.
Die Krewe het Saterdag (12 Oktober) in ’n wegwedstryd die span van Worcester United met 90 lopies geklop. Die Krewe het Paarl-Oos in hul eerste wedstryd van die seisoen met 55 lopies geklop.
Vredenburg/Saldanha, wat Saterdag die loot gewen en ’n stewige 224/8 in sy toegelate 50 boulbeurte behaal het, se boulers het ook hul bydrae gelewer.
Nathan Engelbrecht (83) en Devon Smith (36; nie uit) het die telbord met bestendige kolfwerk aan die rol gehou, terwyl Giovanni Hulley ’n blitsige 27 lopies gemoker het. Die Krewe se boulers het ook nie teleurgestel nie en Hulley het sy veelsydigheid beklemtoon met twee paaltjies vir 22 lopies.
Die ander boulers het ook in die paaltjies gedeel – veral Thandani Majebe, wat met sy 3/14 die beste met die bal vir die Krewe gevaar het. Charlton Villet het met 2/31 toegesien dat die tuisspan met slegs 134 lopies almal terug in die kleedkamer was.
Die Krewe se aandag verskuif dié naweek na die korter weergawe van die spel wanneer hulle weer na Worcester reis vir hul eerste T20-gemeenskapskild-wedstryd. Dié verdedigende Wes-Kaapse T20-gemeenskapskild-kampioen is vasberade om in die nuwe seisoen weer die provinsie in die nasionale gemeenskapskild-toernooi te verdedig.