Vredenburg Saldanha Krewe se derde span en die Sussex-krieketklub van Doringbaai se eerste span het Saterdag (16 November) in ’n Weskus-krieketligawedstryd van die Boland-krieketvereniging kragte gemeet.
Die Krewe het Sussex ingestuur om eerste te kolf nadat die weskussers die loot gewen het.
C. Jooste het met sy aflewerings verwoesting onder Sussex se kolwers gesaai deur drie paaltjies vir nege lopies plat te trek.
A. Linnert (2/8) en C. Pedro (2/31) het goeie ondersteuning aan hom gebied.
Voordat Sussex besef het wat hulle getref het, is hulle almal vir 84 uitgeboul en terug in die kleedkamer om te gaan stort.
Die Krewe se A. Pietersen het van die begin af uitstekend gekolf en 41 lopies van net 27 balle gemoker, wat vier grenshoue en twee sesse ingesluit het.
C. Ramsewak het goeie ondersteuning gebied en 24 nie uit nie van 30 balle aangeteken.
Sy beurt het een grenshou ingesluit terwyl die res van sy heel aanvaarbare telling met enkel- en dubbel-lopies aangeteken is.
Die Krewe het die teiken maklik verbygesteek met 87 lopies vir die verlies van twee paaltjies.
Dit is hul eerste sege in die kompetisie met sewe paaltjies oor Sussex.
Hulle kom nou Saterdag in ’n wegwedstryd teen die derde geplaaste Vineyards te staan.
Ná ’n afwesigheid van ’n maand weens die T-20-gemeenskapbekerwedstryde hervat Boland-krieket se premierliga sy verpligtinge hierdie naweek (Saterdag 23 November).
Op Coetzenburg pak die Maties die Vredenburg Saldanha Krewe.
Ná indrukwekkende oorwinnings deur albei spanne in hul laaste ligawedstryde gaan die vonke gewis op Coetzenburg spat.
Beide Maties en die Krewe staan op 10 ligapunte, maar die Maties het een wedstryd meer gespeel en kan groot uitdagings van die Krewe te wagte wees.
Paarl, die huidige voorloper in die liga, sal graag sy posisie teen Stellenbosch met ’n goeie oorwinning verder wil verstewig.
Die vierde geplaaste Coronations, wat ook een wedstryd minder as Victorian gespeel het, pak mekaar op Victorians se tuisveld waar ook ’n stryd soos min verwag word.
Met die T-20-gemeenskapbekerwedstryde nou agter die rug, kan die spanne konsentreer op die langer weergawe van 50 boulbeurte.