Kreef moet pasop – hier kom Louw

Hy het steeds woema, maar Eugene Louw van St. Andrew’s Primêr sê hy staan nou terug om plek te maak vir ’n nuwe skoolhoof.


Hy het steeds woema, maar Eugene Louw van St. Andrew’s Primêr sê hy staan nou terug om plek te maak vir ’n nuwe skoolhoof.

Ná byna vier dekades van onderwys groet die 60-jarige skoolhoof vanjaar die Saldanha-skool. “Ek stop eers ’n bietjie hier. Om hier te bly sit, veroorsaak ’n bottelnek bo [as hoof], so dit is tyd vir my om plek te maak vir iemand anders,” verduidelik hy.

Louw sê hy vermoed hy gaan die kinders die meeste ná sy uittrede mis. Sy plan is egter om naby te bly. “Die skool se terrein pla my nog baie, en ek het reeds die personeel gewaarsku – hulle sal my binnekort weer by die skool sien. Ek sal een van daardie wit overall-pakke kry en self agter op die trekker wees om die gras te kom sny,” lag Louw.

Dié Saldanhabaaier sê daar is voordele om 36 jaar by dieselfde skool skool te hou. Menige “moeilik ouer” wat by die kantoor opgedaag het, het self by Louw klas gehad. Hy sê hierdie ervaring, om vir verskeie geslagte van dieselfde familie skool te hou, is iets besonders wat hom goed te staan gekom het.

Louw sê hy hoop om vir die “dissipline en orde” wat hy gehandhaaf het, onthou te word.

Sy loopbaan het in die 1980’s as destydse LO-onderwyser (liggaamlike opvoeding) by Panorama Primêr in Louwville begin. Hierna is hy terug na sy tuisdorp waar hy sedertdien klas gee.

Louw se raad aan die volgende hoof is om by te hou met die tegnologiese uitdagings wat onderwys deesdae bied. “Jy sal moet byhou met die tegnologiese wêreld. Dinge soos interaktiewe witborde is hier om te bly en ’n hoof sal moet kan leiding gee op hierdie gebied.”

Ouerbetrokkenheid is altyd ’n uitdaging vir Louw: “Ek het ouers in my kantoor gehad wat hul kinders by die skool kom haal vir ’n noodgeval, dan weet hulle nie eens in wie se klas hul kind is nie. Ek het een uiterste geval ervaar waar die ouer nie eens kon sê in watter graad hul kind was nie.

“Dit is onaanvaarbaar. Dit spreek boekdele oor die vlak van belangstelling wat sommige ouers in hul kinders se skoolloopbaan het. Gelukkig het die skool ’n uitstekende bestuurspan met planne om ouers meer betrokke te kry, maar dit sal gewis ’n uitdaging wees vir die nuwe hoof wat in dié stoel kom sit.”

Louw het sy vrou bedank wat ten spyte van dreigemente om vir hom ’n permanente kamer by die skool in te rig, hom deur die jare ondersteun het. Hy het ook die oudskoolhoof Allen Dreyden uitgesonder as ’n kollega op wie se knoppie hy altyd kon druk vir raad.

Intussen gaan Louw die vakansie geniet en het hy planne om binnekort ’n kreefbakkie aan te skaf.

You need to be Logged In to leave a comment.