Die Weskus-distriksmunisipaliteit het Dinsdag bevestig die raadslid Colin Daniels is oorlede.
Benewens sy werk by die Weskus-distriksmunisipaliteit was Daniels ook raadslid van die Swartland-munisipaliteit.
Daniels was sedert 2016 lid van die Swartlandraad en het in 2019 en 2020 as voorsitter in die portefeuljekomitee vir die munisipale bestuur, administrasie asook finansiële dienste gedien.
Ten tye van sy afsterwe was hy ook wyksraadslid vir wyk 11 in Swartland.
“Dit is met groot hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van raadslid Colin Daniels ná ’n kort siekte. Ons innige meegevoel met sy familie en vriende in hierdie moeilike tyd,” het dié munisipaliteit gesê.
Daniels het vele hoede gedra en was ook lid van die Plaaslike Arbeidsforum, lid van die Salga-werkgroep en verteenwoordiger van die raad by die Streektoerisme-organisasie.
Die distrik se uitvoerende burgemeester, raadsheer Boffie Strydom, het Daniels Dinsdag op ’n portefeuljekomiteevergadering van die Weskus-distriksmunisipaliteit as ’n toegewyde raadslid met die vermoë om kalm te bly, beskryf.
“Colin het ’n geweldige bydrae tot ons burgemeesterskomitee gelewer. Hy was altyd bereid om te help en te dien. Ek sal hom gewis mis,” het Strydom gesê.
Die raad en administrasie het ’n oomblik van stilte gehandhaaf om Daniels te vereer terwyl ’n kers met sy foto by die ontvangs van die hoofkantoor ’n vriendelike herinnering was dat die distriksmunisipaliteit een van sy mees geliefde raadslede verloor het.