Ian Cameron, die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie, het gister (Woensdag 28 Augustus) sy kommer uitgespreek dat slegs 58% van huisbraak-slagoffers in die land dié misdaad by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanmeld – hoofsaaklik omdat hulle glo die polisie sal niks daaraan doen nie.
Cameron het gereageer op Statistieke Suid-Afrika se vrystelling van sy Opname van Bestuur, Openbare Veiligheid en Geregtigheid vir 2023-’24.
“Die vertrouensgebrek tussen die polisie en gemeenskappe is ’n groot achilleshiel in die stryd teen misdaad,” sê Cameron.
Hy beklemtoon dat dit van die polisie afhang om hard te werk en hierdie negatiewe sentiment met daad en optrede om te keer. Hy het ook die vrystelling van die opname verwelkom, aangesien dit ’n dieper ontleding van die misdaadprentjie in die land gee. Hy meen die algemene afname in die aanmelding van misdaad oor die hele spektrum, veral seksuele misdrywe, is kommerwekkend.
“Die afname in die aanmelding van seksuele misdrywe van 92,3% tot 78,4% moet omgekeer word deur die opleiding van polisiebeamptes om seksverwante misdade voldoende te hanteer om sekondêre viktimisasie te voorkom. Die doeltreffende ondersoek van misdade wat tot vervolging lei en die voortdurende opdatering van slagoffers sal ook vertroue tussen die polisie en slagoffers versterk,” sê Cameron.
“Dit is uiters kommerwekkend, aangesien die polisie tans nie toegerus is om slagoffers werklik te ondersteun nie en ongelukkig verloor slagoffers vertroue in die stelsel wanneer beskermingsbevele nie voldoende afgedwing word nie.”
Hy voeg by dat deel van die begrotingsaanpassings wat die portefeuljekomitee wil voorstel, kan help om sommige van hierdie tekortkomings aan te pak.
Cameron het ook te velde getrek teen die gebruik van onwettige vuurwapens – die voorkeurwapens in baie misdaadvoorvalle – wat onverpoosd voortduur. Hy stel ’n groter vermoë in die polisie voor om vuurwapens wat by die polisie ingegee word en waarop beslag gelê is, te vernietig. Die polisie moet ook doeltreffend optree teen diegene wat met vuurwapens smokkel.
“Die gemak waarmee misdadigers toegang tot vuurwapens kry, is onaanvaarbaar,” sê hy.
Cameron meen dit is onaanvaarbaar dat mense onveilig voel om ná donker op straat te loop.
Statistieke SA het aan die lig gebring dat veral vroue meer as mans vrees om in die nag rond te loop.
Mense wat veilig voel om bedags alleen te loop, het ook afgeneem van 86,6% in 2019-’20 en 84,8% in 2020-’21 tot 80,4% in 2023-’24.
Hy bepleit verhoogde sigbare polisiëring om hierdie kommerwekkende neiging hok te slaan en moedig gemeenskappe aan om aktief aan buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums deel te neem, en die oë en ore van die polisie te wees.
“Dit is van kardinale belang dat gemeenskappe alle wettige maniere uitput om misdade te help voorkom en te bekamp terwyl ons werk om hulpbronne en die begroting van die polisie aan te pas,” sê hy.