Paternoster-inwoners is nie geneë met die beplande heffingsgebied nie. Foto: Danie Hefers

‘n Groep van 200 Paternoster-inwoners het hul ernstige kommer uitgespreek oor die stigting van ‘n voorgestelde spesiale heffingsgebied (SRA), wat die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) voorstaan.

Die groot groep eiendomseienaars en inwoners van Paternoster het op Donderdag 4 September ‘n formele memorandum aan die SBM voorgelê waarin hulle hul ernstige kommer uitspreek oor die proses wat gevolg word om ‘n SRA in die dorp te vestig.

Die name en vanne is ter insae beskikbaar, maar word weens moontlike viktimisasie nie in die openbare domein bekendgemaak nie.

Die memorandum wys op moontlike prosedurele en regskomplikasies, insluitend beperkte openbare deelname, ontoereikende toegang tot belangrike dokumente en die moontlike onregmatige gebruik van persoonlike inligting.

Die groep glo ook toepaslike wetgewing soos die Wet op munisipale eiendomsbelasting, die Wet op munisipale stelsels, die Wet op munisipale finansiële bestuur, die Wet op die beskerming van persoonlike inligting en die Wet op die bevordering van administratiewe geregtigheid asook die munisipaliteit se eie SRA-beleid van 2017 is gebrekkig nagekom.

Inwoners versoek dat die proses opgeskort word totdat ‘n volle nakomingsondersoek gedoen is.

Tereza Burger, ‘n woordvoer- der vir die SBM, het by navraag deur Weslander gesê net kommunikasie van ‘n individu van Paternoster is ontvang. Volgens Burger meen die SBM die huidige proses is “in lyn met die SRA-beleid soos deur die raad goedgekeur”. Op ‘n vraag of die huidige proses opgeskort en ‘n ondersoek begin gaan word, het Burger geantwoord die proses is in die gemeenskap se hande en geen formele aansoek vir oorweging is ingedien nie.

Oor die beweerde swak hantering van persoonlike inligting het Burger gesê toestemming is van eiendomeienaars via SMS verkry om hul inligting aan die SRA-stuurskomitee bekend te maak. “Inligting is slegs bekendgemaak van individue wat nie beswaar gemaak het teen die deel van hul inligting nie,” het sy gesê.

Die groep inwoners meen die proses is nie deursigtig, regverdig en volledig in ooreenstemming met die wet nie.

Na bewering is ‘n konsepsakeplan en begroting opgestel nog voordat openbare raadpleging begin het. “Hierdie benadering skep twyfel oor die deursigtigheid en regverdigheid van die proses. Daarby is dokumente nie wyd versprei nie, wat doeltreffende openbare deelname bemoeilik het.”

In die memorandum word verder beweer dat persoonlike inligting van inwoners sonder hul toestemming gebruik is en dat vraelyste ‘n onbehoorlike klomp persoonlike inligting versoek het, wat deelname kon beperk. Die groep inwoners meen ook daar is besorgdheid dat sekere vrae leidend was of gefokus het op sake wat buite die SRA se wetlike mandaat val, wat die geldigheid en betroubaarheid van die resultate bevraagteken.

Daar heers ook onsekerheid oor die finansiële reëlings, insluitend die munisipaliteit se voorneme om 3% van die heffings te behou.

Met die memorandum het die inwoners ten doel om te verseker hul regte word gerespekteer en goeie bestuurspraktyke gehandhaaf. Hulle beklemtoon dat hulle nie ontwikkeling wil stuit nie.

Hulle sou graag ‘n onderneming van die SBM wou hê dat inwoners in die toekoms behoorlike kennisgewing, volledige dokumentasie en betekenisvolle deelname sal kry.

Die SBM het nog ‘n week om binne die 30 gegewe werksdae formeel op die versoeke in die memorandum te reageer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article