‘n Inwoner van die Weskus het sy kommer uitgespreek oor die los gruis tussen die TR8501- en OP538-paaie, op die pad tussen Jacobsbaai en Middelpos. Volgens hom het hy dit al onder die plaaslike en provinsiale verkeersowerhede se aandag gebring, maar geen optrede het gevolg nie. Wat die inwoner veral bekommer, is dat die los gruis ongelukke kan veroor- saak. Vermoedelik was dit die oorsaak van ‘n onlangse ongeluk op dié pad.
“Dit is onveilig vir motoriste en kan groot skade veroorsaak,” sê hy.
Volgens Stephen Heyns, woordvoerder van die departement van infrastruktuur, het die padonderhoudspan sedert Woensdag 23 Julie alle kruisings en toegange tussen die TR08501 en MR00538 geïnspekteer om te verseker dat die pad skoongemaak, veilig en toeganklik is.
“Ons sal voortgaan met inspeksies om die pad te monitor. Indien daar herhaalde probleme is met oorblyfsels wat deur vragmotors by die kruisings gestort word, sal ons die saak met die onderskeie grondeienaars opneem,” sê hy.

