Vind plattelandse gasvryheid, kuns, olywe en avontuur op Porterville.
As die geharwar dié Desember te erg raak langs die kus, mik gerus binneland toe vir ’n bietjie rus en vrede . . . en ’n hele paar verrassings.
Andante-olyfplaas is geleë net buite Porterville op die Dasboschklip-pad.
Eienaar Willie Duminy het groot drome vir die olyfplaas gehad van dag een af, maar dit het beslis sy wildste drome oortref. Die pryse het sedert 2013 sommer vinnig begin instroom en sluit onder meer die Absa Top-5 plaaslike toekennings in.
Die Andante Intenso-olyfolie is al drie keer, in 2011, 2012 en 2014, aangewys as die beste olyfolie by die Los Angeles International Extra Virgin Olive Oil- (EVOO-) kompetisie, wat die grootste toekenning in die olyfbedryf ter wêreld is.
Die dorpie het ook ’n gewilde blyplek van kunstenaars geword. Een van hulle is juwelier Monique Nienaber van Ebonymoon wat onlangs verhuis het uit Somerset-Wes.
Met haar besonderse oog vir kuns, ontwerp en vaardige vakmanskap is haar styl elegant en aards, klassiek maar tog modern. Die juwele is altyd aan die voorpunt van verandering omdat sy daarvan hou om met idees te speel.
Sy gaan in 2017 begin klas gee vir mense wat die kuns van juwele maak wil aanleer. Mense wat belangstel, kan haar bel by 084 531 4506 of ’n e-pos stuur na monique@ebonymoon.co.za.
Jerald Blaber is ’n mesmaker sedert 1993 en het ’n meswinkel in Durbanville besit. Ná ’n noue ontkoming 15 maande gelede in die stad, het hy besluit om sy stadskoene vir die rustiger lewe in Porterville te verruil.
Hy is passievol oor sy kuns en skep handgemaakte messe uit herwinbare staal met eksotiese hardehout-handvatsels.
Bel hom by 084 580 9629 of stuur ’n e-pos na blaberblades@gmail.com.
Ronel Bakker, ’n keramiekkunstenaar, woon al 11 jaar hier. Sy werk vanuit ’n skuur op die plaas waar hulle ’n entjie buite die dorp woon.
Sy het al deelgeneem aan verskeie groepuitstallings oor in Kaapstad en het haar eerste solo-uitstalling in Augustus in Stellenbosch gehad.
Sy het ook ’n kleiner reeks vir ’n restaurant in Nice, Frankryk, gedoen.
Gaan loer gerus na haar werk op haar Facebook-blad, Ronel Bakker Keramiek, of nader haar direk by 060 947 1282 of ronelbakkerkeramiek@gmail.com.