Dis weer tyd vir die jaarlikse Klassieke Koelkamers-fees.

Die gefokusde fees, in sy vierde jaar, was die idee van die musiekimpresario Niël Rademan en die eienaars van Die Koelkamers-teater, Greg Meyer en Jan Malan.

Klassieke Koelkamers behels vanjaar drie vertonings, gevul met die talent van die klassieke en oorkruising-musikante Selim Kagee, Niël Rademan, Zanne Stapelberg, Elna van der Merwe en die Koelkamers-koor.

Dié kleinskaalse fees begin Donderdag 26 September om 19:00 met Musicals, aangebied deur die alombekende bariton en koormeester Niël Rademan, wat ook verantwoordelik is vir die bekende Hessequa Harmonie in Heidelberg. Hy tree saam met Zanne Stapelberg op, met Elna van der Merwe op klavier.

Die Koelkamers-koor, wat uit lede van die plaaslike gemeenskap in Paternoster bestaan, maak ook sy verskyning. Die koor is in 2022 onder die leiding van die Paternoster-inwoner Marlene Anderson begin.

Op Vrydagaand 27 September bied Niël Rademan weer saam met Zanne en Elna ’n program van liedjies uit operas en musiek uit bekende films aan, naamlik Opera en die silwerdoek.

Saterdag 28 September om 12:00 sluit die fees af met die uitmuntende Selim Kagee met sy vertoning Il Monde.

. Besoek www.diekoelkamers.com om kaartjies te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.