Die kinders van Piketberg is vanjaar weer met netjiese hare skool toe danksy die dorp se lanklopende hareprojek.
Bergrivier-munisipaliteit se burgemeester, Ray van Rooy, is jare lank reeds die organiseerder van die projek. Danksy vrywilligers is seuns se hare geskeer en meisies se hare is gewas, drooggeblaas en gevleg vir die eerste dag van skool verlede week.
“Alles word gratis gedoen om ouers te help bespaar en ook om ouers te help wat dit nie kan bekostig nie. Vrywilligers is die steunpilaar in die projek deur hul dienste gratis beskikbaar te stel,” meen Van Rooy.
Vanjaar is werkers van die plaaslike CWP-program ook ingespan om te help.
“Ek wil my opregte dank uitspreek aan elke vrywilliger wat gehelp het om die kinders skoolgereed te kry.
“Verversings is deur Boland Superspar geskenk om die magies te vul en kele nat te hou,” verduidelik hy.