’n “Monumentale oorwinning vir die planeet” – dít is hoe omgewingsgroepe die uitspraak van regter Selby Mbenenge, regter-president van die Oos-Kaap, beskryf het.
Mbenenge het Donderdag die eksplorasiereg van Shell – om olie en gas aan die Wildekus te soek – tersyde gestel. Omgewingsgroepe, wat kleinskaalse vissers insluit, het die aansoek aan die hof gerig weens kommer oor die langtermynimpak wat die verkenningswerk op die omgewing sou hê. Die respondente, wat ook die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, en die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, Barbara Creecy, insluit, sal ook die regskostes van die aansoekers moet betaal. Shell was van plan om seismiese toetse te doen, maar die hof het bevind die proses om die regte te bekom, was onregverdig en gebrekkig wat wetsvereistes betref.
Die uitvoer van seismiese toetse was plaaslik ook ’n omstrede kwessie aangesien die Australiese maatskappy Searcher Seismic seismiese toetse aan die Weskus wou doen.
Dié toetse is intussen gestaak.