Om net ’n basiese lewe te maak, is ’n uitdaging vir kleinskaalse vissers in die Weskus.
Dit is ’n nimmereindigende stryd waarmee hulle worstel en waarvoor hulle baklei.
Die departement van omgewing, bosbou en visserye se voorskrifte laat vissers in die Weskus aan die kortste ent trek.
Die departement het in November 2023 visvangregte aan kleinskaalse vissers vir die volgende 15 jaar toegeken.
Dit het beteken dat vissers weer van voor af die proses moes begin en weer aansoek moes doen, met finansiering wat baie van hulle nie gehad het nie.
Vissers meen dat die nuwe stelsel nie volhoubaar en prakties is nie.
Die vissermanne Charles Jordaan, die president van die St. Helenabaai-vissersgemeenskapsforum en met meer as 48 jaar ervaring in die visbedryf, en Christie Links, die voorsitter van die Saldanhabaai-koöperasie en met meer as 46 jaar ervaring, sê visvang is iets wat van geslag tot geslag oorgedra word.
Met die nuwe stelsel wat nou ingestel is, voel vissers hulle word in verskeie aspekte benadeel.
Links sê daar is baie struikelblokke, soos byvoorbeeld die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne, wat vissers verhoed om sekere spesies te benut, asook die allokering van spesies en regte, om net ’n paar te noem.
“Ons kan nie kop bo water hou nie en kon die afgelope ses maande nie op die water uitgaan nie.
“Só sal ons nooit bokant die broodlyn kan uitstyg nie,” sê Jordaan.
Met die see wat deur hul are vloei, meen dié twee dat vissers die waters beter ken as enige konsultante. Hulle voel vissers moet ingesluit word wanneer dit by navorsing kom.
“Ons wil graag saam met die regering werk. [Hulle moet] ons deel maak van hul besluite en aangeleenthede tot die bedryf. Ons wil ook graag met die minister hieroor praat, want daar is oplossings vir die dilemma wat ons tans ondervind. Hulle moet gehoor gee aan ons op alle vlakke in die visbedryf. Ons glo dat dinge kan verbeter wanneer ons deel is van al die besluite rakende wette en regulasies,” sê Links.
Een van die ander wette wat ingebring is, het betrekking tot die stigting van koöperasies.
Volgens Elmondo Paulse, die voorsitter van St. Helenabaai se hawe-gebruikerskomitee, is die mislukkingskoers van koöperasies meer as 70%, en dit is ’n groot bekommernis.
“Daar is tot op hede geen duidelike plan van aksie in terme van watter ondersteuning die departement sal verskaf nie, bv. finansiering, hulpbronne, mentorskap en infrastruktuur. My droom is dat die relevante beleide en regulasies gewysig word om die kleinskaalse vissers in te sluit,” sê Paulse.
Hy voeg by dat die kleinskaalse visserysektor ’n groot rol kan vervul in terme van voedselsekerheid, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en volhoubare werkskepping.
“Al wat ons versoek, is dat die minister van die departement van omgewing, bosbou en visserye en sleutel-belanghebbendes na ons luister en bystand verleen.
“Die kleinskaalse vissersgemeenskappe het hoop verloor.”
Volgens Peter Mbelengwa, ’n woordvoerder van die departement, is die implementering van koöperasies, soos in die kleinskaalse visserybeleid van 2012 uiteengesit is, ontwerp om vissers te bemagtig om kollektief en volhoubaar te werk.
“Die mislukkingskoers van 70% wat deur die gemeenskap aangehaal word, is nie op enige gestaafde data gegrond nie.
“Die departement is daartoe verbind om die sukses van die koöperatiewe model te verseker en werk nou saam met verskeie belanghebbendes in die verskaffing van deurlopende opleiding, infrastruktuur ondersteuning en mentorskap aan koöperasies.”
Mbelengwa sê in terme van die toekenning van spesies is die “mandjie” spesies wat aan koöperasies beskikbaar is, duidelik uiteengesit, met koöperasies wat regte het om spesies te oes vir beide kommersiële en persoonlike gebruik.
“Die kommer oor die mandjie spesies wat nie gefinaliseer word nie of wat kommersiële waarde ontbreek, is onakkuraat, aangesien die koöperasies die opsie gehad het om spesies vir hul gebruik te benoem, insluitend dié met kommersiële potensiaal.”
Hy sê die departement het die 2012- kleinskaalse visserybeleid geïmplementeer met die primêre doel om die lewensbestaan van opregte kleinskaalse vissers te verbeter, in teenstelling met opportuniste wat poog om die stelsel te misbruik.
“Die beleid verseker dat regte vissermanne met regte en geldige vangpermitte hul toekennings wettig kan oes. Ongelukkig sal individue of entiteite wat sonder ’n geldige permit visvang en buite die wetlike raamwerk [nadelige] gevolge hê, soos duidelik in die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne uiteengesit word.”
Mbelengwa voeg by die departement erken die kritieke rol wat die kleinskaalse visserysektor in voedselsekerheid, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en werkskepping speel.
Tans voel vissers egter veranderinge is nodig om ’n bestaan vir hulself en toekomstige vissers te verseker.