Kleinsakelui maak op óns staat

Die Weskusbesigheids­ontwikke­ling­sentrum in Saldanha nooi plaaslike ondernemings om hul kleinsakelui te ondersteun.


Die Weskusbesigheids­ontwikke­ling­sentrum in Saldanha nooi plaaslike ondernemings om hul kleinsakelui te ondersteun.

“Dit is vir ons belangrik dat plaaslike besighede bydra tot die sentrum en by ons ontwikkelende kleinsakelui aankope doen,” sê Welmarie Coetzee, voorsitter van die sentrum se raad van direkteure.

Ten einde te wys waarmee van hul kleinsakelui besig is, het die sentrum Vrydag 17 November ’n opedag gehou waar produkte uitgestal is.

“Die dag is gehou om ons terug op die map te sit en ’n uitlaat te bied vir die kleinsakelui,” verduidelik Deirdré Pretorius, waar­nemende sentrum­bestuurder. Sy het oorgeneem as bestuurder sedert die bedanking van die vorige bestuurder, Shandré Summers, in Junie.

“Ons wil nie hê ons sentrum moet toemaak nie,” beaam Paulina Mali, een van die eerste vroue wat deur die sentrum gehelp is om haar eie kosonderneming op die been te bring. Sy, saam met Linda Moss, vandag die voorsitter van die sentrum se kleinsakelui­forum, was van die sentrum se eerste kleinsakelui wat kontrakte by die Saldanha-staalaanleg bekom het.

Moss het in ’n toespraak Vrydag vertel hoe die sentrum in die laat 1990’s gebore is uit die ontstaan van Saldanha Staal (vandag ArcelorMittal Saldanha Works). Sy sê oudpresident Nelson Mandela het geweier om die staalaanleg goed te keur mits daar ’n sentrum tot stand kom waar plaaslike entrepreneurs opgelei en bemagtig kon word.

“Ons het niks van besigheid geweet nie, maar ons kon Saldanha Staal wys ons kon kompeteer met die wêreld. Hierdie sentrum het ’n suksesstorie om te vertel,” het Moss gesê.

Moss het gesê verhoudings met die staalaanleg en ander plaaslike ondernemings moet ontsluit word sodat die sentrum steeds sy hoofdoel kan nakom om plaaslike kleinsakelui te ontwikkel.

Volgens Coetzee was daar 4 648 voete deur die sentrum verlede jaar. Sy het bygevoeg die sentrum is amptelik nie meer ’n Transnet-sake­ontwikkelingsentrum nie omdat die drie jaar lange kontrak in Januarie verval het en nog nie weer hernu is nie. Die sentrum, ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag, is volgens haar en Pretorius op hul beurt afhanklik van finansiële ondersteuning van die wyer plaaslike sake­gemeenskap om voort te bestaan.

Om meer uit te vind hoe om betrokke te raak of oor die dienste wat die sentrum bied, skakel 022 714 1731 of besoek sy webwerf www.wcbusinessdevelopment.­co.za. Die sentrum het nog twee takke, een in Piketberg (L.B. Wernich-biblioteek) en een in Vredendal.

You need to be Logged In to leave a comment.