Noluvu Ludidi
Kinderbeskermingsweek het
Saterdag (25 Mei) begin en eindig op Maandag 2 Junie.
Kinderbeskermingsweek word jaarliks van einde Mei tot begin Junie gevier om die lig op die bewusmaking van kinderveiligheid te laat skyn.
Weslander het by Weskussers, wat hulle ook vir die regte van kinders beywer, gaan aanklop om hul mening oor die werklike betekenis van die week te kry.
Trish Goosen, ‘n inwoner van Vredenburg wat voorheen by Badisa Weskus gewerk het en tans by Siyabonga Care Village betrokke is, is baie bekend met die hartseer van kindermishandeling en -verwaarlosing in die Weskus-gemeenskap.
“Vir my is Kinderbeskermingsweek ‘n tyd om mense van die enorme probleem bewus te maak sodat hulle geaktiveer kan word om nie net tydens hierdie week nie, maar ook gedurende die ander 51 weke van die jaar [iets kan doen] om ‘n verskil in ‘n kind se lewe te maak. Elke inwoner het werklik ‘n geleentheid om in ons kinders te belê. Hulle is ons land se toekoms. Sommige mense voel geroep om
pleegouers te word; ander kan hul tyd of vaardighede aanbied of skenkings gee. Dan is daar ook diegene wat finansieël geseën is en die voorreg het om te kan bydra tot organisasies wat ‘n ondankbare werk doen wat min mense kan sien, maar werklik ‘n groot verskil maak,” meen Goosen.
Volgens Esmerelda Mckay, ‘n aktivis van Saldanha, is Kinderbesker-
mingsweek “ ’n herinnering aan ons dat ons jongelinge moet koester en beskerm”.
“Ek daag almal uit om ‘n groen strik te dra en hulself af te vra wat hulle kan doen om ‘n veilige ruimte vir alle kinders in hul onderskeie
gemeenskappe te skep.”
Met vanjaar se tema “Working
together to end violence against
children” sê Schalk Steenkamp, die hoofseun van die Laerskool Vredenburg, dat elke kind verdien om geliefd en regverdig behandel te word.
“Kinderregte vereis dit in ons land se Grondwet. Kinders van alle ouderdomme en agtergrond moet veilig voel en ons moet die siklus van kindermishandeling stop. Alle kinders behoort te droom en hoop te hê vir ‘n blink en suksesvolle toekoms.”
Alyssa van Greunen, die Laerskool Vredenburg se hoofmeisie, deel
dieselfde sentiment en sê Kinderbeskermingsweek is belangrik.
“Ons het die reg op veiligheid, geluk, goeie gesondheid en versorging en liefde. Gesprekke oor die mishandeling van kinders, die verwaarlosing van kinders en boeliegedrag behoort in
hierdie week ekstra aandag te geniet.”
By Diazville Primêr voel Ava Jane Damons, ‘n gr. 7-leerder, dat praktiese maatreëls toegepas moet word sodat kinders beter beskerm kan word.
Tatum Petersen, ‘n gr. 8-leerder by dieselfde skool, voel ook mense kan kinders help deur te alle tye te verseker dat elke kind veilig en geliefd voel en kinders aan te moedig om die regte keuses in die lewe te maak.





