Elton Lesch, ook bekend as “Die Khoi-man”, voer sy produksie My komvandaan in die Weskuns-sentrum op. Foto:


Die Weskus-kunstenaar Elton Lesch laat kuns al sy hele lewe lank leef – veral in agtergeblewe gemeenskappe.

Lesch, ook bekend as Die Khoi-man, het sy gewilde verhoog­produk­sie My komvandaan Woensdag 26 Oktober baie suksesvol in die nuwe Weskuns-sentrum, wat onlangs in Vredenburg geopen het, opgevoer.

Alle kaartjies was uitverkoop en die gehoor kon nie genoeg kry van sy vertellings oor sy grootwordjare as Weskuskind nie. Lesch doen dit deur digkuns wat hy in sy eie Weskusdialek voordra. Hierdie lag-met-’n-traan-produksie het nou al sy weg na verskeie venues in die Weskus gevind.

Lesch verduidelik dat twee soorte mense gewoonlik die vertonings bywoon – een groep wat nie weet van die kleurryke Weskus nie en die ander wat dalk al daarvan vergeet het.

“Ek help om die verlede te deel en ook dat ons nie moet vergeet hoe lekker die Weskus en sy mense is nie,” sê hy.

Volgens Lesch was die vertoning besonders in dié sin dat hy waarlik tuis gevoel het. Hy is ook deel van die Weskuns-sentrum en die Active Community-teater groep, wie se tuiste by die sentrum is.

“Ons sukkel nou al langer as twee jaar om die teater oop te kry, en nou was ek bevoorreg om die openingsproduksie te kon doen.”

  • Lesch se rolprent Soewaar assie tiene bloue jirre – Die storie van Ronald Williams is ’n paar jaar gelede vervaardig en het reeds meer as 80 000 kykers op YouTube bereik.

Lesch het destyds daarmee na verskeie Weskus-gemeenskappe getoer en dit is nou tyd om Paternoster, wat ’n paar keer daarin verskyn, te besoek.

Die rolprent word Sondag 6 November om 15:00 by Die Koelkamers vertoon. Toegang is gratis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025