Jong vroue wat lede van die Rise Young Women-klub in Vredenburg is, het onlangs ’n Kerspartytjie vir kinders in Bougainvilleastraat, Laingville, gehou.
Shanelle de Villiers, Carlyn Lackey en Chelsea Carolus is al drie graad 9-leerders aan Weston Hoërskool en deel van dié vrouebemagtingsklub. Hulle sê die idee met die partytjie was om die kinders van Laingville ’n bietjie te bederf.
Kerspakkies vol karretjies, lekkergoed en poppe is aan die sowat 30 verheugde kinders uitgedeel.
’n Handjievol tieners het ook pakkies ontvang, maar in plaas van speelgoed was daar noodsaaklikhede soos toiletware, skoolsokkies en natuurlik lekkernye.
Kersvader het ook ’n verskyning gemaak. Roomys is later uitgedeel en ’n danskompetisie is ook gehou.
Shanelle woon in Bougainvilleastraat en sê sy en haar vriendinne wou die kinders vir die feestyd bederf.
Die meisies het hul dank aan die plaaslike supermark vir skenkings vir die geleentheid uitgespreek.