Kêrel kry twee keer lewenslank

Die gewelddadigheid waarmee Carmen Gouws (21) meer as ’n jaar gelede op haar verjaarsdag in Lutzville-Wes in die Vredendal-distrik vermoor is, volg weer eens die hartseer paadjie van soveel voorvalle van geslagsgebaseerde huishoudelike moorde.


Die gewelddadigheid waarmee Carmen Gouws (21) meer as ’n jaar gelede op haar verjaarsdag in Lutzville-Wes in die Vredendal-distrik vermoor is, volg weer eens die hartseer paadjie van soveel voorvalle van geslagsgebaseerde huishoudelike moorde.

Haar kêrel, Calvin Cloete (37), is Dinsdag (29 Oktober) in die rondgaande hooggeregshof in Vredendal twee lewenslange vonnisse opgelê.

Net ’n bietjie meer as vier jaar nadat Cloete vir Gouws as minderjarige tiener in 2019 ontvoer, verkrag en byna vermoor het, het hy erken dat hy Gouws op 7 Oktober 2023 – op haar 21ste verjaarsdag – vermoor het. Hy het haar aangerand, geskop en op haar gespring voordat hy haar oor die kop met ’n byl doodgekap het.

Kinders het Gouws se lyk op die plaas Flentersvlei naby die dorp gekry.

Weslander het berig dat Cloete die dag voor Gouws se verjaarsdag glo ’n boodskap aan haar familie gestuur het waarin hy aandui dat hy vir hulle ’n “geskenk” sou gee (“Twee vroue vermoor in geslagsgebaseerde geweld”, 12 Oktober 2023). Hy is net drie weke vóór die moord uit die tronk vrygelaat.

Gouws was glo so bang dat sy ’n oordosis pille gedrink het.

Cloete, wat ’n misdaadrekord vir geweldsmisdade het, en Gouws het begin uitgaan toe sy 13 jaar oud was. Ten tyde van haar ontvoering en verkraging in 2019 was sy 17 jaar oud. Cloete het haar ook toe probeer vermoor.

Hy het verlede Dinsdag (22 Oktober) skuld op al dié aanklagte beken.

Volgens Cloete se pleitverduideliking het hy Gouws op haar verjaarsdag in 2023 met ’n byl in die hand gedreig en gevloek om saam met hom te gaan.

Terwyl hulle nog aan die stap was, het woede hom oorval. Hy het haar te lyf gegaan, haar met sy skoene aan geskop en op haar gespring. Hy het ook met sy vuiste ingeklim en haar kop met die byl gekap. Cloete het erken hy wou haar doodmaak.

In 2019 het Gouws by vriende gesit toe Cloete daar aankom en sy het hom volgens Cloete geïgnoreer toe hy vir drank vra, waarop hy haar met ’n bierbottel oor die kop geslaan het.

Hy het haar toe met ’n panga gedreig en gedwing om saam met hom te gaan. Cloete erken hy het haar arm omgebuig en haar gestamp sodat sy op die teerpad val en seerkry. By die “tuck shop” het hy haar met die plat hand en vuis deur die gesig geslaan en gedreig om haar borste met ’n panga af te kap. Hy het haar ook op haar borste met die panga geslaan.

Omdat sy ontsteld was, het hy gedreig om haar “op te chop” as sy polisie toe gaan.

Cloete erken dat Gouws bang was en dat sy nie uit vrye keuse saam met hom wou gaan nie.

Hy het haar na ’n afgesonderde veld gedwing waar hy haar met die panga teen die nek gedwing het om uit te trek. Hy het haar verkrag, waarna hy haar weggejaag het.

Die ander aanklag van poging tot moord spruit uit ’n voorval op 1 Junie 2019. Cloete het probeer om Isak Boois te vermoor deur hom met ’n plank aan te rand en met ’n mes in die nek te steek. Cloete het erken hy het Boois op dié dag met ’n panga in die hand genader en hom in die nek gesteek toe hy nie Cloete se vraag geantwoord het nie.

Cloete is Dinsdag lewenslange gevangenisstraf vir verkragting opgelê, lewenslange gevangenisstraf vir moord, 13 jaar direkte gevangenisstraf vir poging tot moord en vyf jaar direkte gevangenisstraf vir ontvoering.

Hy sal eers vir parool in aanmerking kom nadat hy minstens 25 jaar tronkstraf uitgedien het.

Lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, het die swaar vonnisse verwelkom.

Speurkonst. Rugene Links van die Lutzville-speurtak, die ondersoekbeampte in die saak, het al die saakdossiere waarmee Cloete verbind is, na die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging gestuur, wat dit saamgevoeg het.

You need to be Logged In to leave a comment.