Met die Joshlin Smith-appèlsaak van Kelly Smith, Boeta Appolis en Steveno van Rhyn, wat nou weer in die kollig is, sal die polisie moet bontstaan om weer allerhande “nuwe” inligting wat vorendag kom, op te volg.
Soos verlede Vrydagmiddag (25 Julie) toe die ondersoekspan in die saak onder leiding van kapt. Wesley Lombard weer die Middelpos- informele nedersetting in Saldanha ingevaar het om nuwe leidrade op te volg.
Dit is intussen bekendgemaak dat dit Kelly was wat dié sogenaamde “leidrade” verskaf het.
Volgens die kantoor van die provinsiale polisiekommissaris in die Wes-Kaap het die polisie “inligting” opgevolg oor die verdwyning van die sewejarige Joshlin Smith in Februarie 2024.
Die gemeenskap van Middelpos en die naburige Diazville se vuisvoos gemoedere is weer eens omgekrap omdat elke soektog tog maar weer hoop bring.
Polisiespanne onder leiding van die speurders van die honde-eenheid, soek- en reddingspanne en die Saldanha-polisie, het ‘n geïdentifiseerde gebied in Middelpos, waar Joshlin verdwyn het, deursoek, maar niks gekry nie.
Die polisie het benadruk dat hulle ‘n verpligting het om alle inligting wat onder hul aandag gebring word, op te volg en te ondersoek. Die polisie het die versekering gegee Joshlin se spoorlose verdwyning geniet steeds voorkeur en die ondersoek is nog nie gesluit nie.
Gemeenskapslede met wie Weslander gesels het, meen dit maak hulle radeloos. Die uitgerekte hofsaak, wat van Maart tot Mei in die Veeldoelige Sentrum in White City ten aanskoue van plaaslike inwoners aangehoor is, het hulle met meer vrae as antwoorde gelos.
Smith, Appolis en Van Rhyn is skuldig bevind op aanklagte van ontvoering en mensehandel, waarvoor regter Nathan Erasmus hulle lewenslange tronkstraf opgelê het.
Hul appèlsaak is vir Dinsdag en Woensdag 12 en 13 Augustus in die Kaapse hooggeregshof op die hofrol.


