Kelly gee Joshlin glo self vir ontvoerders

Kelly (Raquel) Smith (33) het glo al in Augustus 2023 hardop beplan om haar kinders iewers in Januarie of Februarie vanjaar te verkoop. Sy het ook na bewering sáám met haar sesjarige dogter, Joshlin, in ’n wit motor met vreemdelinge geklim, waarna di


Kelly (Raquel) Smith (33) het glo al in Augustus 2023 hardop beplan om haar kinders iewers in Januarie of Februarie vanjaar te verkoop. Sy het ook na bewering sáám met haar sesjarige dogter, Joshlin, in ’n wit motor met vreemdelinge geklim, waarna die kind nooit weer gesien is nie.

Dié ontstellende feite het vandeesweek aan die lig gekom in die feite-opsomming van die staat se saak teen Smith en haar medebeskuldigdes. Hulle het na bewering saamgesweer om die kleine Joshlin in Februarie vanjaar uit Middelpos, Saldanha, te ontvoer en te verkoop.

Sedertdien is Joshlin, wat gister (Woensdag 23 Oktober) sewe jaar oud geword het, net ’n onskuldige grysgroenooggesiggie op familie en ander belangstellendes se T-hemde en plakkate. In die 35 weke sedert sy ná alle aanduidings ontvoer en verkoop is, kon niemand ’n spoor van haar kry nie.

Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, het die feite-opsomming van die staat se saak aan die media bekendgemaak ná die sewende verskyning van die beskuldigdes in die Vredenburg-landdroshof op Maandag 21 Oktober.

Smith, Boeta (Jacquen) Appolis (31) en Steveno van Rhyn (27) staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehan­del vir die doel om uit te buit.

Die staatsadvokaat Aradhana Heeramun het aan die hof gesê die aanklagte teen Renze (Lourentia) Lombaard (31), die vierde beskuldigde in die saak, is teruggetrek.

Lombaard, Smith en Appolis se buurvrou in die Middelpos- informele nedersetting langs Diazville, sou glo ook deel in die geld wat met die verkoop van Joshlin verkry sou word.

Ntabazalila het gesê daar is besluit om Lombaard as staatsgetuie in te span nadat al die bewyse beoordeel is. Haar saak is op 13 Mei by die ander s’n gevoeg.

Die staat voer aan dat Smith op Sondag 18 Februarie vir Joshlin, ’n gr. 1-leerder aan Diazville Primêre Skool, aan ’n vrou in ’n wit motor gaan wys het. Die vrou het glo uit die voertuig geklim en met Smith en Joshlin gesels, waarna die vrou “iets” aan die beskuldigde oorhandig het. Daar word nie genoem wie die vrou kan wees nie.

Smith en Joshlin is hierna huis toe waar Smith, Appolis, Van Rhyn en Lombaard na bewering die transaksie bespreek het en ook hoe die geld verdeel sou word.

Op Maandag 19 Februarie het Smith glo vir Joshlin en haar elfjarige boetie ingelig dat hulle nie op daardie dag skool toe gaan nie. Smith het Joshlin se klere in ’n sak gepak en werk toe gegaan. Joshlin en haar boetie het by Appolis agtergebly in die hokkie waar hulle op daardie tydstip gebly het. Hy, Van Rhyn en Lombaard het glo daardie oggend in die hokkie dagga gerook.

Smith het glo later teruggekom en Joshlin met die sak klere kom haal.

Sy en Joshlin het gestap na waar ’n wit motor gewag het. Hulle het ingeklim waarna dit weggery het.

Dieselfde aand het Smith na Joshlin begin “soek” en haar by die Saldanha-polisie as vermis aangemeld, waarna sy as ’n vermiste persoon geregistreer is.

Ongelooflik baie hulpbronne en tyd is in ’n grootskaalse soektog na Joshlin ingestort – nie net deur die plaaslike polisie en ander magte en die Saldanhabaai-munisipaliteit nie, maar ook die provinsiale polisie en die Stad Kaapstad.

Die beskuldigdes is op 5 Maart in hegtenis geneem en aangehou. Hul eerste hofverskyning was op 7 Maart.

Die Staat voer aan dat die beskuldigdes die gemeenskaplike doelwit gehad het om Joshlin te “verkoop, te verruil of af te lewer”.

Daar was ’n geringe kans dat die saak teen al vier beskuldigdes tydens Maandag se verskyning tydelik van die rol geskrap kon word indien die staat nie die akte van beskuldiging ingedien het nie, wat hulle wel gedoen het.

Luidens die akte van beskuldiging het die beskuldigdes verskeie bepalings van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Mensehandel van 2013 oortree.

Landdros Theresa Postma het die saak amptelik oorgedra na die hooggeregshof in Kaapstad waar Smith, Appolis en Van Rhyn op Vrydag 31 Januarie sal verskyn vir ’n voorverhoorkonferensie.

Die strafprosedure kan in drie stadiums verdeel word: die voorverhoor, die verhoor en die naverhoor.

Lombaard is die tweede beskuldigde teen wie aanklagte in dié saak terug­getrek word: ’n vermeende sangoma wat aanvanklik saam met Smith, Appolis en Van Rhyn verskyn het, is ná twee hofverskynings vrygelaat.

Met dié laaste verskyning van die beskuldigdes in die Weskus, het ’n klein groepie mense met groen T-hemde buite die Vredenburg-landdroshof hul ondersteuning vir Joshlin gewys. Ná die nuus dat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas word, het hulle spontaan sommer ook ’n Springbok-liedjie gesing.

Die gemeenskap is verlig dat die saak in ’n hoër hof aangehoor gaan word en meen “dit voel darem nou asof daar vordering gemaak word”.

You need to be Logged In to leave a comment.