Die draaie is die moeilikste, maar wanneer hulle op die reguit deel van die baan kom, laat spaander die kinders dat die stof staan.
Talle kinders het Saterdag hul kaskarre na Laingville se sportveld gebring om te sien wie die vinnigste om die rugbyveld kan ry.
Dié geleentheid was die tweede kaskarderby wat deur die plaaslike Malgas Lionsklub aangebied is.
Volgens Pieter Siegfried, president van die Lionsklub, hoop hulle om volgende jaar ’n groter byeenkoms te hou en skole buite St. Helenabaai te nooi om deel te neem. Vanjaar het leerders van die laerskole Steenberg’s Cove, H.P. Williams en St. Helenabaai deelgeneem.
Daar was groot opwinding toe die eerste drie karre wegtrek, met toeskouers wat saam met die spanne om die baan hardloop.
Die helfte van die geskreeu was aanmoediging, die res nie.
Hans Herrmann, jare lange Lionslid, het die deelnemers gehelp met ’n laaste paar verstellings voor die resies.
Daar is geboor, olie aan skarniere gespuit en wiele wat op die baan agtergebly het is weer vasgemaak.
“Ons het eers die karretjie met hout gebou. Dit was maklik, maar die sitplek was die moeilikste. Ek het die babastoeltjie van my neef gekry en Diego se pa het dit help vasmaak,” verduidelik Cristiano Gelant (12).
Diego Jantjies (12) sê hoewel die kaskar heel gemaklik is, is die babastoeltjie swaar, wat die stoter se werk weer moeiliker maak.
Tussen al die seuns was daar net een meisie wat vanjaar deelgeneem het – die 10-jarige Jay-Lee Blaauw.
Jay-Lee, saam met haar spanmaat Nevlin Segeler, het die eerste plek in hul ouderdomsgroep gewen.
Na afloop van die aflosresies, sekerlik die opwindendste van die dag, het elkeen ’n burger en koeldrank van die Lionsklub ontvang en reeds planne begin maak om hul kaskarre reg te kry vir volgende jaar.