Die Palissander-kamerkoor van Gauteng het Maandagaand 26 Augustus vir ’n geestelike ervaring gesorg met pragtige liedere uit hul drieledige Drop in the ocean-program.
Palissander, een van Suid-Afrika se mees toonaangewende en internasionaal erkende kamerkore, is besig met ’n Weskus-toer en raak hartsnare aan so ver as wat hulle gaan.
Dié onafhanklike amateurkoor wat in 1992 gestig is, het ten bate van Huis Wittekruin by die NG kerk Saldanha opgetree.
Die koordirigent Sarita Hauptfleisch het die koor gestig omdat sy wou “sielsmusiek” maak wat die gehoor musikaal, intellektueel en emosioneel betrek.
Die druppel-in-die-oseaan-tema sinspeel op Moeder Teresa se woorde dat elkeen se enkele druppeltjie bydra om die oseaan vol druppels te maak – of andersom, al voel mense soms dat hul enkele druppeltjie nie saak maak nie, dra dit tog tot die groot geheel by.
Die koor se soprane, alte, tenore en basse het liedere in tale soos Afrikaans, Engels, Spaans, Xhosa, Zoeloe, Aramees en Latyns gesing.
“Ons is ambassadeurs vir liefde, vrede en hoop,” het Hauptfleisch aan die gehoor, wat ’n yskoue aand trotseer het om die uitvoering by te woon, verduidelik.
Hauptfleisch het die gehoor daaraan herinner dat mense – soos in die lied, Bend – moet leer om in swaar omstandighede saam met die wind te buig; om nié te breek nie; om hul ore te spits vir die kiewiet wat ’n nuwe dag aankondig.
Die koor het ook gesing oor ’n geliefde wat saam die pad enduit stap, dat elke druppel ’n rimpeleffek veroorsaak en oor die Here se genade bo genade. Nog ’n boodskap uit die liedere was dat die eindbestemming nié belangriker as die lewensreis is nie.
Karin Delport, Huis Wittekruin se bestuurder, het die bedankings gedoen, almal welkom geheet en Erna du Plessis, wat die aand gereël en saam met Hauptfleisch musiek aan Universiteit Stellenbosch gestudeer het, bedank vir haar volgehoue ondersteuning aan dié tehuis vir bejaardes.
Du Plessis het agterna gesê die kooruitvoering was ’n wonderlike belewenis en die gehoor se terugvoer was ongelooflik positief.
Hauptfleisch het ook al gedien as beoordelaar vir die nasionale Applous-koorkompetisie en die Pretoria Eisteddfod..Die naam Palissander verwys na ’n digbundel van die Afrikaanse digter Boerneef, getiteld Palissandryne, waarin hy skryf oor sy blokfluit van donkerbruin palissanderhout wat “palissandertaal” sing – ’n sinoniem vir musiek.