Wat is ‘n wingman? Dis daai een persoon wat jou op jou beste én slegste ken. Die een wat jou aanmoedig om jou hart te volg, maar ook reguit sê wanneer jy jou verstand verloor het. Iemand eerlik, lojaal en altyd daar wanneer dinge moeilik raak.
Vir Ruan Smith is daardie iemand nie net ‘n vriend nie – dis sy identiese tweelingbroer, JP Smith.
In die nuwe seisoen van kykNET se gewilde realiteitsreeks Op My Eish! staan JP by sy broer as ‘n vertroueling en klankbord terwyl Ruan voor die kameras na liefde soek.
“Dis ‘n absolute eer – dis wonderlik,” sê JP. “Ons is ongelooflik na aan mekaar en ken mekaar goed. Dis ‘n nuwe uitdaging vir my. So, dit gaan interessant wees. Ruan en ek het al baie saam deurgemaak – deur die moeilike tye en die goeie. So, ek weet wat die beste vir hom is. Ek gaan soos altyd eerlik wees. Ek dra sy beste belange op die hart.”
Die twee 53-jarige broers deel nie net ‘n hegte band nie, maar ook ‘n indrukwekkende geskiedenis op die rugbyveld. JP het vir spanne soos die Westelike Provinsie (2010), die Brumbies (2014–2015), Canberra Vikings, die Stormers (2016), die Reds (2018–2020), LA Giltinis (2021) en die Lions (2021–2024) gespeel. Hy en Ruan het onder andere saam vir die Brumbies, Reds en Lions gespeel.
Deesdae bestuur die tweeling saam ‘n rugbykliniek, genaamd Eight7, waar hulle fokus op die ontwikkeling van jong talent. JP weet presies waarna Ruan in hierdie stadium van sy lewe soek: stabiliteit, opregtheid en iemand wat gemaklik is met eenvoud.
“Ruan soek iemand wat gemaklik is – nie iemand wat altyd aan die gang of besig moet wees nie. In ons loopbane was ons ongelooflik besig en het baie min tyd vir onsself gehad. Dus, iemand wat tyd by die huis waardeer, is vir hom belangrik. Hy soek nie ‘n persoonlikheid wat baie onderhoud nodig het nie – net iemand wat gemaklik is met die normale, stil oomblikke.”
Maar dit gaan nie net oor gemak nie. JP glo Ruan het ‘n maat nodig wat beide onafhanklik en gesinsgerig is. “Hy wil nie iemand hê wat van hom verwag om alles te doen nie. ‘n Verhouding gaan daaroor om saam te bou – nie net in een rigting te gee nie. Ja, dit is belangrik vir ‘n man om sy deel te speel, maar dit moet wedersyds wees.”
Toe hy gevra word hoe hy sal weet wanneer Ruan werklik verlief is, antwoord JP sonder aarseling: “As hy in sy daaglikse lewe opofferings vir iemand maak, dan weet jy dis ernstig. Hy gee nie maklik daardie deel van homself prys nie. So, as hy vir iemand begin aanpas, beteken dit baie.”
“Ruan is eintlik ‘n baie sagte ou,” sê JP. “Hy is op sy hoede, veral in nuwe verhoudings, maar wanneer jy hom leer ken, is hy ‘n ongelooflik lojale, omgee-mens. Ek hoop mense sien daardie kant van hom in die reeks – nie net die sterk rugbyspeler nie, maar die groot teddiebeer wat hy werklik is.”
En as jy bekommerd is dat jy die twee op die skerm sal verwar?
“Ons is baie soortgelyk, maar ons persoonlikhede is effens anders. Jy sal dit begin agterkom. En as daar enige verwarring is – ek is die slimmer een,” voeg JP laggend by.
Hy glo Op my eish! is ‘n unieke geleentheid vir sy broer: “In vandag se wêreld is almal so besig dat dit al hoe moeiliker word om liefde op ‘n natuurlike manier te vind. Hierdie reeks gee hom die kans om homself oop te maak, om weer te probeer. En as ek ‘n klein deeltjie van daardie reis kan wees, dan is ek daar.”
Inskrywings vir die nuwe seisoen van Op my eish! is tans oop by kykNET.tv. Inskrywings sluit op 2 Augustus 2025.





