Om geldslim te werk is alles goed en wel, maar soms het jy net ’n paar ekstra rande nodig.
Of dit nou vir ’n oorsese reis is en of jy dalk ’n nuwe, spoggerige kamera wil hê (soos in my geval), is ’n ekstra inkomste dalk die antwoord.
Om ’n side hustle te begin kan dalk daardie rande inbring waarna jy soek.
Indien jy ’n bietjie inspirasie nodig het, kyk net na Saldanha se eie koekedoor.
Sanet, die eienaar van Cup of Cake, het aanvanklik koek begin bak om haar wittebroodfonds aan te vul. Sy het uiteindelik só gebak en brou dat sy onderwys opgegee het. Nou bedryf sy haar eie onderneming.
’n Voltydse onderneming is nie almal se doel nie, maar jy kan jou stokperdjies en passies gebruik om jou beursie ’n bietjie voller te maak.
Komplimenteer mense altyd jou handewerk, kuns of selfs jou kosblik? Dalk sal hulle betaal vir skeppings wat jy reeds maak – brei ’n ekstra mussie en probeer dit verkoop.
Stal jou kuns by ’n plaaslike markie uit of hoor of jou kollegas of vriende sal betaal om ’n kosblik soos joune te hê.
Begin klein, maak seker jou pryse is mededingend en jy kan dalk ’n nuwe inkomste kry.
Daar is egter ’n paar algemene slaggate om te vermy wanneer jy besluit om ’n tweede inkomste te ontwikkel.
’n Side hustle kan jou dalk ’n paar rand uit die sak jaag, maar dit moenie ’n plaas se prys wees nie – net ’n paar ekstra bolle wol of meer bestanddele op jou inkopielys.
’n Ekstra inkomste sal ekstra werk beteken; maak dus tyd vir jou planne.
Baie mense onderskat die ure wat ingesit moet word om ’n side hustle te vestig, maar jy sal dalk verbaas wees oor die resultate.
Nog ’n slaggat is om te veel te vinnig te probeer aanbied. Fokus op een of twee produkte en maak seker dit is uit die boonste rakke voor jy meer begin aanpak.
Kenners kan nog baie raad oor side hustles gee, maar hierdie is die algemeenste. Wie weet, dalk groei jou ekstra inkomste tot ’n volwaardige onderneming!