Jy moet geld bestee om geld te maak, lui die gesegde. So ook moet jy skuld maak om meer skuld te kan maak.

Vele Suid-Afrikaners doen eers moeite om hul krediettelling na te gaan wanneer hulle lenings vir rygoed of huise wil aangaan.

Geld-ghoeroes meen dit is altyd belangrik om te weet wat jou krediet-telling is – nie net wanneer jy ’n lening wil aangaan nie.

Krediettellings bepaal hoeveel geld en teen watter rentekoers iemand geld kan leen. Mense besef soms met ’n skok hulle is glad nie so krediet­waardig as wat hulle gedink het nie – dit omdat iemand se hele krediet­geskiedenis in ag geneem word wanneer sy of haar krediettelling saamgestel word.

Daardie selfoonkontrak van jare terug kan dus terugkom om by jou te spook wanneer jy vir ’n huislening wil aansoek doen. Daarom is dit belangrik om gebruik te maak van die gratis jaarlikse kredietverslag waarop elke Suid-Afrikaner geregtig is.

Verskeie platforms is beskikbaar waar jy binne minute jou eie krediet­telling kan kry.

Ek moes net ’n eenvoudige vorm invul om te vind my krediettelling is “gunstig”.

’n Telling tussen 0-486 is power en sal beteken die enigste mense wat dalk geld aan jou sal leen, is die soge-naamde “loan sharks” wat astronomiese koerse op die leenbedrag hef. Enigiets tussen 681-766 is “goed” en verseker leners jy sal moeite doen om hul geld terug te betaal.

Hoe laer ’n krediettelling, hoe groter die risiko dat ’n uitlener sy geld gaan terugkry. Niemand wil geld uitleen as die kans groot is dat hulle dit nie sal terugkry nie.

Aanlyn kredietplatforms gee ’n deeglike analise en het ook wenke om meer kredietwaardig te wees. Sommige sê ook sommer of jy vir persoonlike lenings of kredietkaarte kwalifiseer en wat die gepaardgaande rentekoers is.

Geld moet altyd verantwoordelik geleen word. Wees dus seker voordat jy dit doen jy kan dit terugbetaal.

You need to be Logged In to leave a comment.