Om jou bloedjie vir skool in te skryf, kan vir jou hoofbrekens veroorsaak as jy nie presies weet hoe dit werk nie.
Met sterre of trane in die oë, soms sommer albei, durf elke graadeentjie jaarliks die eerste skooldag aan.
Ma en pa sukkel ook met ’n effense knop in die keel of ’n klammigheid in die oog. Maar deesdae is daar nuwe emosies wat ouers ervaar wanneer dié mylpaal aanbreek: Verligting en dankbaarheid dat hul kind by die skool van hul keuse instap, of teleurstelling en kommer omdat hul bloedjie noodgedwonge hul skoolloopbaan begin by ’n instelling wat nie hul eerste keuse was nie.
Ál meer ouers moet elke jaar teleurgesteld ’n alternatiewe skool soek wanneer hulle die deur by hul verkose skool gewys word. Hiervan het Sharon* eerstehandse ervaring.
Dié ma van Kaapstad het haar oudste dogtertjie in 2013 by ’n skool in die suidelike voorstede ingeskryf. Die skool is naby die huis waar sy en haar gesin saam met haar ma gewoon het.
Vir Sharon* was dit logies om haar jongste by dieselfde laerskool in te skryf. Maar in 2017 het sy skielik met ’n krisis op hande gesit toe haar jongste se aansoek vir graad R afgekeur word. Die rede? Die gesin het intussen verhuis en woon nie meer naby die skool nie.
“Ek was verpletter. Ek het dit glad nie verwag nie veral omdat ons so deel van die skoolgemeenskap geword het.”
Boonop woon haar ma, wat bedags na die kinders omsien terwyl Sharon in die stad werk, steeds in dié omgewing. Haar man werk ook naby die skool. “Dis moeilik genoeg om een kind skool toe en terug te vat. Nou moet jy heen en weer na nóg ’n skool toe ry.”
Die jaarlikse stryd om jou kind by ’n skool van jou keuse in te skryf, het baie te doen met verstedeliking en bevolkingsgroei, meen kenners.
Wat word in ag geneem vir toelating?
Jy kan jou kind by enige skool inskryf, maar ’n skool se individuele toelatingsbeleid en beskikbare aantal plekke sal bepaal of die kind aanvaar word of nie.
’n Skool se beheerliggaam moet ooreenkomstig Art. 5 van die Suid- Afrikaanse Skolewet ’n beleid opstel wat toelatingskriteria bepaal. Daarin word die ouer se woon- en werkplek gewoonlik in ag geneem, of daar reeds ’n boetie of sussie in die skool is en, in die geval van toelating tot graad een, of die leerder uit die laerskool se eie kleuterskool kom.
Elke skool bepaal self of hulle ’n radius het vir ouers se woonadres wat voorkeur kry en hoe groot die radius is.
Wat van toelatingsgeld en -toetse?
Kragtens Art. 39(5) van die Skolewet is dit onwettig om met die registrasieproses toelatingsgeld te eis.
Dit is ook kragtens Art. 5(2) van die Skolewet onwettig om ’n kind te verplig om ’n toelatingstoets te skryf. Volgens Elijah Mahlangu, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, gebeur toelatingstoetse wel in sommige skole, maar dit is nie veronderstel om ’n kind van toegang te weerhou nie. Dit word net gedoen om te bepaal op watter kognitiewe vlak die kind is.
Die registrasieproses:
Volgens Mahlangu begin die toelatingsproses vir alle provinsies, behalwe Gauteng, in April en Mei.
Die Wes-Kaap is die ander provinsie (benewens Gauteng) wat in Januarie baie druk ervaar met toelatings en daarom word ouers ook aangemoedig om hul kinders vroeg in te skryf.
Aansoekvorms is by die skoolkantoor, waar jy wil aansoek doen, beskikbaar. Dikwels kan die dokumente ook van die skool se webtuiste afgelaai word.
Klop so vroeg moontlik by die skool van jou keuse aan (aanlyn of gaan besoek hulle) om die inligting te bekom. Probeer uitvind hoe vol die skool is sodat jy kan weet of jy by nog skole moet aansoek doen. Jy moet die volledige dokumente byderhand hê wanneer jy jou kind inskryf.
Watter dokumente benodig jy?
Dokumente vir toelating tot graad een is afskrifte van ouers of wettige voogde se identiteitsdokumente, leerders se geboortesertifikate, bewys van huis- of werkadres en immuniseringskaart.
Dokumente vir toelating tot graad agt is afskrifte van ouers of wettige voogde se identiteitsdokumente, leerder se geboortesertifikaat, bewys van huis- of werkadres en vorderingsverslag van die skool. – Netwerk 24
Jou kind het nie plek gekry nie, wat nou?
“Een van ons grootste uitdagings bly steeds die feit dat ouers daarop aandring dat hul kinders by hul voorkeurskole ingeskryf word,” sê Avril Daniels, hoof van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) se Vredenburg-kring.
“Ons sal plek kry vir jou kind, maar die skool gaan dalk nie jou eerste keuse wees nie,” het hy erken.
Aansoeke om toelating het reeds in April gesluit en die meeste skole aan die Weskus het al in Augustus of September laat weet watter kinders plek gekry het. Ouers is dan veronderstel om die skool in kennis te stel of hulle die plek gaan neem en of hulle besluit het om die kind elders te laat skoolgaan. Hierna sal die plekke wat ouers van die hand gewys het, weer aan kinders gebied word wat voorheen afgekeur is.
Miskien is jou kind se aansoek nie afgekeur nie, maar jy het heeltemal vergeet om vroeër vanjaar aansoek te doen. Daniels sê hierdie ouers moet so gou as moontlik navraag by hul naaste skole doen en die WKOD se kantoor in Vredenburg besoek sodat daar plek vir die kind gesoek kan word.
Moet liefs nie wag tot Januarie nie. Elke jaar worstel die WKOD om plek vir honderde leerders in die reeds oorvol skole aan die Weskus te kry.
Die sperdatum vir alle geregistreerde leerders wat nog nie by hul skool opgedaag het nie, is einde Januarie. Daarna word hierdie “spookleerders” gederegistreer om nog plek in die skole beskikbaar te stel.
* Skuilnaam gebruik