’n Swanger Kelly Smith, ma van die vermiste Joshlin Smith, Maandag (15 Julie) in die beskuldigdebank van die Vredenburg-landdroshof. Foto: Alida Buckle


Piet Retiefstraat voor die Vredenburg-landdroshof was Maandagoggend (15 Julie) doodstil voor die verskyning van vier verdagtes in die vermeende ontvoering en verkoop van die sesjarige Joshlin Smith van Middelpos, Saldanha. Anders as met vorige verskynings het motors weer oorkant die pad geparkeer gestaan en het die ander instansies rondom die hof met hul gewone bedrywighede voortgegaan.

“Die verkiesing is mos nou verby,” was die mening van ’n groepie vroue van Diazville, wat sedert die inhegtenisneming in Maart vanjaar die hofsaak getrou bywoon. Veronique Pretorius, Samonay Pietersen en Bianca Julius het van dag een af na Joshlin help soek en het al hul koppe gebreek oor waar dié groenoog-meisietjie haar kan bevind. “Ons wil nie meer dink nie,” het hulle gesê.

Die saak teen Joshlin se ma, Kelly Smith (33), haar kêrel, Boeta (Jacquen) Appolis (31), sy vriend, Steveno van Rhyn (27), en ’n buurvrou, Renze (Lourentia) Lombaard (31) is Maandag uitgestel vir die staat om die laaste los drade agtermekaar te kry voordat die verhoor in die hooggeregshof begin. Die vierstuks staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel vir die doel om uit te buit.

Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het buite die hof gesê die akte van beskuldiging sal met die beskuldigdes se volgende verskyning op Maandag 16 September in die Vredenburg-landdroshof aan die hof voorsien word. Dié hof sal dan op ’n datum besluit wanneer die verhoor in Kaapstad sal begin.

verslae nog uitstaande

Kelly, wat nog twee ander kinders het en met haar vierde kind swanger is, het Joshlin op Maandag 19 Februarie by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangegee. Sedertdien kon geen spoor van die kind gekry word nie.

Die staatsadvokaat, Aradhana Heeramun, het gesê nog forensiese bewyse is vir ontleding weggestuur en ander uitslae en verslae is uitstaande.

Al vier beskuldigdes moet nog pleit. Indien een van hulle skuld beken en die ander nie, kán die sake dalk geskei word. Ná die pleit mag die saak egter nie meer teruggetrek word nie.

Ntabazalila het ook gesê ’n klag van moord kan eers oorweeg word as ’n lyk gekry word. “Ons weet steeds nie of sy lewe of dood is nie.” Hy het benadruk die NVG is tevrede dat die staat se saak en bewyse sterk genoeg is om die beskuldigdes skuldig te bevind. Volgens Ntabazalila oorweeg die staat op hierdie tydstip geen ander beskuldigde nie.

Hy het te kenne gegee dat Kelly wél met die ondersoekspan praat.

Nadat die hof verdaag het, het ’n groep gemeenskapslede hul ontevredenheid oor die uitstel van die saak aan lede van die media oorgedra.

Die kriminoloog Bianca van Aswegen, nasionale koördineerder van Missing Children SA, meen verskeie faktore het daartoe bygedra dat Joshlin se verdwyning ongekende belangstelling ontlok het.

Die feit dat haar saak soveel aandag in die media en op sosiale media getrek het, volgens Van Aswegen, het ongelukkig ook ’n politieke doel gedien.

“Dit was net voor die verkiesing en politieke partye het by die saak betrokke geraak – iets wat ons nog nooit vantevore met ’n vermiste kind gesien het nie. Dit het ’n baie groot rol gespeel.”

onregverdig

Sy meen die blootstelling wat Joshlin se saak gekry het, kan amper as onregverdig bestempel word, want elke kind wat vermis raak, verdien volgens haar dieselfde aandag van politieke partye. “Elke kind wat vermis word, het sulke aandag nodig.”

Van Aswegen verwys ook na die vloedgolf vals inligting wat oor die Joshlin-saak op sosiale media versprei is voordat dit enigsins nagegaan en bevestig is. “Dit het ’n baie groot invloed op só ’n saak. Sosiale media help ons om die gesig van ’n vermiste kind daar buite te kry, maar verkeerde inligting kan die ondersoek belemmer.”

Die omstandighede waaronder Joshlin verdwyn het, is volgens Van Aswegen ook nie uniek nie. “Dit is omstandighede waarin ons baie kinders in ons land sien verdwyn.”

Haar hart gaan steeds uit na Joshlin se familie en sy doen ’n beroep op enigeen wat inligting oor Joshlin se verdwyning het, om met Missing Children SA by missingchildren.org.za of hul naaste polisiekantoor in verbinding te tree. .

Weslander het verlede week volledig berig oor hoe die strafproses werk en die wetlike stappe wat gevolg moet word (“Joshlin: Waarom is saak so stil?” 11 Julie 2024).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025