Joshlin Smith is op dié foto vyf jaar oud.
Joshlin Smith is op dié foto vyf jaar oud.

Die bekentenisse wat Boeta Appolis en Steveno van Rhyn op Dinsdag 5 Maart 2024 aan die ondersoekspan in die Joshlin Smith-saak gemaak het, is toelaatbare getuienis in die saak.

Regter Nathan Erasmus het op Donderdag 17 April in sy uitspraak daaroor gesê dat beide Appolis en Van Rhyn se bekentenisse deur die staat as bewysstukke gebruik kan word.

Regter Nathan Erasmus.

Dit het die uitmergelende binneverhoor van bykans drie weke tot ʼn einde gebring.

Appolis en Van Rhyn se regsverteenwoordigers, adv. Fanie Harmse en adv. Nobahle Mkabayi, het gepoog om te bewys dat die verklarings onder onbehoorlike invloed verkry is en dat die beskuldigdes aangerand en gemartel is. Selfs dat die grondwetlike raamwerk waarmee dit hanteer moes geword het, nie nagekom is nie. Verder het hulle beweer dat die inhoud van hierdie verklarings nie Appolis en Van Rhyn se eie was nie, maar deur die ondersoekspan aan hulle voorgesê is.

Erasmus het in sy uitspraak beklemtoon dat ʼn regter gewoonlik nié redes hoef te verskaf oor ʼn uitspraak in ʼn binneverhoor nie, maar dat hy dit tog wil doen omdat die saak so ʼn wye belangstelling ontlok het.

Die toelaatbaarheid is ‘n interlokatiewe uitspraak (tydelik) wat in ‘n later stadium in die verhoor herbesoek kan word. “Ek het gedink dit sal gepas wees om net die proses en waar ons is te verduidelik weens die openbare belang in die saak. Sodat mense verstaan waarmee ons te doen het en wat die uitspraak beteken. Dit is nie die einde van die saak is nie.”

Hy het verduidelik dat vir bewyse om in ‘n kriminele verhoor gelewer te word, moet dit eerstens relevant tot die kwessies in dispuut en tweedens wetlik toelaatbaar wees. “Wanneer individue buitengewone verklarings, soos in hierdie geval, aan die polisie aflê en agterna word beweer dat dit ontoelaatbaar is omdat die minimum vereistes nie nagekom is nie, het die hof ‘n keuse: hanteer dit as deel van die hoofverhoor of in ‘n binneverhoor.”

Erasmus het gesê ʼn binneverhoor is soos ʼn miniverhoor waarin bepaal moet word of die verklarings toelaatbaarheid is al dan nie. Hy het die getuienis wat deur die staat en die verdediging gelei is aangehoor. Die onus om die toelaatbaarheid van die verklarings te bewys, het by die staat berus.

Argumente oor hierdie kwessies is aangehoor alvorens Erasmus sy uitspraak gegee het. Hy het beide Appolis en Van Rhyn se bekentenisse of verklarings as toelaatbaar verklaar. Dit kan nou as getuienis in die hoofverhoor gebruik word teen die beskuldigdes.

Erasmus het droog opgemerk dat “daar reeds baie water onder die brug deur geloop het, maar daar kan dalk meer storms op pad wees. Ek weet nie wat hulle is nie”.

Die hoofverhoor gaan op Dinsdag 22 April voort. Erasmus het die staat aangesê om dan, soos eintlik gebruiklik is op die eerste dag van ʼn strafregtelike verhoor in die hooggeregshof, vir die hof ʼn padkaart te gee van waarheen die saak op pad is. En dat die verdediging gerus dié padkaart kan gebruik as ʼn tydlyn.

“Ek doen dit, sodat ons betyds kan beplan. Ek het die volle voorneme om binne my vermoë en mag hierdie saak so gou moontlik af te handel.”

You need to be Logged In to leave a comment.