Dit is reeds agt maande gelede dat die mooi sesjarige grysgroenoog-kind Joshlin Smith spoorloos uit haar ouerhuis in ’n informele nedersetting in Saldanhabaai verdwyn het.
Kort ná Joshlin se verdwyning is foto’s van hierdie meisie landwyd op sosialemediaplatforms versprei en mense van heinde en ver het op die Weskusdorp toegesak om met die soektog te help – natuurlik ook verskeie politici wat hierdie geleentheid van “omgee” sou misbruik as verkiesings-foefie in die aanloop tot die nasionale verkiesing vroeër vanjaar.
Maar nou, maande later, blyk dit die histerie-herrie van vroeër vanjaar het heelwat bedaar en die klein Joshlin is byna vergete.
Joshlin se ma, Kelly, en drie ander verdagtes is wel in hegtenis geneem in verband met haar verdwyning, maar daar is steeds geen aanduiding van wat met die kind gebeur het of waar sy is nie. Baie gerugte doen egter die ronde – van muti-moord tot mensehandel.
Die Joshlin-saak herinner aan die opspraakwekkende Gert van Rooyen-saak wat in die laat jare tagtig begin het. Nou, baie jare later, loop die spook hiervan nog steeds.
In die noorde van die land was die publiek behoorlik op hol oor die verdwyning van ses jong meisies tussen 1 Augustus 1988 en 2 November 1989 – Tracy-Lee Scott-Crossley (14), Fiona Harvey (11), Joan Horn (12), Anne-Marie Wapenaar (12), Odette Boucher (11) en Yolanda Wessels (13). Hulle het almal soos ’n groot speld verdwyn.
En op 15 Januarie 1990 is die land behoorlik geskok met die nuus dat Gert en sy meisie Joey Haarhoff dood is terwyl hulle in Pretoria van die polisie af probeer wegkom het.
Dit was enkele dae nadat ’n sewende slagoffer van die twee, Joan Booysen (toe 16 jaar oud), uit hul kloue ontsnap het.
Joan is deur Haarhoff na die egpaar se huis gelok, waarna sy deur Gert aangerand, bedwelm en seksueel aangerand is. Sy is in ’n kas toegesluit, maar het ontsnap en die saak is by die polisie aangemeld.
Hierna was die polisie op Gert en Joey se spoor. En toe hulle agterkom dat hulle vasgetrek gaan word, het Gert eers vir Joey doodgeskiet en toe homself.
Met Joan se getuienis en die adres van die gruwelhuis is geen steen onaangeraak gelaat nie.
Binne die huis is bewysstukke gevind wat Gert en Joey met die ses vermiste meisies verbind het; ook dat hulle waarskynlik nie die enigste slagoffers van die twee kon wees nie.
Die hele eiendom asook nabygeleë erwe is omgedolwe vir bewysstukke.
Die pedofiel en sy houvrou het egter hul geheime na hul graf geneem en Suid-Afrika met een van die land se tergendste misdaadraaisels nog gelaat.
Maar hierdie opspraakwekkende saak het tot vandag toe nie gaan lê nie weens private speurders, oud-polisiemanne asook verskeie lede van die publiek wat steeds antwoorde soek – byna 35 jaar ná die twee se dood.
Sedertdien is miljoene rande aan die ondersoek bestee, maar elke keer eindig dit in ’n doodloopstraat.
Dan weer word spoke opgejaag met kwansuis nuwe bewyse wat na vore kom.
Selfs die ondersoekende televisieprogram Carte Blanche het ’n twee jaar lange ondersoek na die raaisel gedoen, maar dit het niks opgelewer nie.
Onlangs is weer ’n Facebook-petisie op die been gebring vir ’n nuwe ondersoekspan om dieper in die verdwyning van die ses meisies te delf.
Natuurlik was daar ook talle teorieë oor die jare heen oor wat die lot van die meisies was en wie die eintlike baasbrein agter Gert en Joey was.
Een van die teorieë is dat die twee die meisies vir ’n regeringsnetwerk gevat het en hulle as ruilmiddel vir ru-olie gebruik het.
Ander sê dat die meisies as seksslawe vir hooggeplaaste politici gebruik is.
Die samesweringsbeweringe gaan vandag nog voort.
’n Omvattende boek is ook hieroor geskryf deur ’n ondersoekende joernalis, Gert & Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar, maar hierin is ook geen daadwerklike bewyse of antwoorde nie.
Wat wel ’n feit is, is dat ná al hierdie jare van hierdie onopgeloste saak, wag die naasbestaandes van Tracy-Lee, Fiona, Joan, Anne-Marie, Odette en Yolanda dat daar eendag vir hulle wel uitsluitsel gegee sal word oor die lot van die meisies.
So ook sal baie mense uitsluitsel wil kry oor wat van Saldanhabaai se klein Joshlin Smith geword het …