Gemeenskapslede het bymekaargekom om bewusmaking te skep oor Romano Fredericks se verdwyning.


Byna twee weke nadat die 19-jarige Romano Fredericks op 3 Augustus spoorloos verdwyn het, wag sy ouma steeds op sy terugkeer.

Romano, van Yskor, ’n leerder aan die Hoërskool Louwville, word vermis nadat hy die Saterdag glo by ’n vriendin gaan kuier het.

Sy ouma Anna Fredericks het vroeër aan Weslander vertel dat sy al hoe meer bekommerd begin raak het hoe later dit die aand geword en hy nog nie teruggekeer het nie (“Ouma rig pleidooi vir vermiste kleinseun se veilige tuiskoms”, Netwerk24/Weslander, Woensdag 7 Augustus).

“Hy was nie ’n kind wat rondgeloop het nie; hy het altyd teruggekom huis toe,” het sy toe gesê. ’n Maat van hom het vir die familie gesê Romano is die betrokke middag Velddrif toe.

Fredericks sê sy het in kontak gekom met die vriendin by wie Romano in Velddrif gaan kuier het en daar is aan die familie gesê Romano het terug geryloop.

Fredericks weet glad nie wat intussen met haar kleinseun gebeur het nie. Sy weet hy het die taxi geneem Velddrif toe, maar weet nie waar hy uitgeklim het en of hy weer opgelaai is nie. “Ek weet regtig nie. Daar word nog ondersoek ingestel.”

Wat vir die familie nog meer hartverskeurend is, is die feit dat Romano nie sy matriekafskeid op Donderdag 8 Augustus bygewoon het nie. “Alles was gereël en reg, en ons moes die oproep maak om die eetgoed te kanselleer. Dit was nie ’n lekker gevoel nie, en nie ’n lekker gevoel dat hy so ’n groot oomblik in sy lewe misgeloop het nie.”

In ’n pleidooi saam met die gesin het die gemeenskap op Vrydag 9 Augustus bymekaargekom om bewusmaking te skep oor Romano se verdwyning.

Volgens Norman van Wyk, ’n gemeenskapsaktivis en wykskomiteelid, was dit hartroerend om te sien hoe die gemeenskap almal saamgestaan het.

“Ek het hoop in hierdie aksie gesien, asook in Maandag 12 Augustus se byeenkoms. Dit is ’n emosionele rit om te sien hoe klasmaats diep bekommerd is, maar tog hoopvol is oor Romano se terugkeer,” sê Van Wyk.

Hy voeg by hy glo die breër gemeenskap plaas groot vertroue en geduld in die plaaslike polisie en wetstoepassers om Romano te vind. “Ons wag angstig vir wanneer hulle enige deurbrake of nuus met betrekking tot Romano sal deel,” sê Van Wyk.

Fredericks sê sy implementeer geduld en hou die geloof dat haar kleinseun sal terugkeer. Sy is dankbaar vir die gemeenskap se insette en omgee.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, sê die polisie neem kennis dat Romano Saterdagaand by die Laingville-kruising afgelaai is. Sy lê klem daarop dat enigiemand wat Romano dalk tussen 20:00 en 21:00 die Saterdagaand ’n rygeleentheid van die Laingville-kruising af gegee het of weet waar hy is, dringend met die naaste polisiekantoor moet kontak maak.

“Die omstandighede rakende sy verdwyning word ondersoek,” voeg Helfrich by.

You need to be Logged In to leave a comment.