Dertien jong wetenskaplikes van nege skole aan die Weskus het onlangs aan die internasionale Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes in Boksburg deelgeneem.

Die ekspo het verlede maand plaasgevind met die Weskusstreek se leerders wat hul skole met trots verteenwoordig het.

Finaliste van 35 streke in die land asook ander lande soos Mexiko, Ghana, Namibië, Kenia, Nigerië, Zimbabwe, Mosambiek en Tanzanië het aan dié grootste wetenskapkompetisie in Afrika deelgeneem waar pryse ter waarde van R10 miljoen op die spel was.

Nicola Bezuidenhout van Curro Langebaan het ’n goue medalje verower in die kategorie “Vernuwing en tegnologie” met haar projek oor die suiwering van seewater vir landbou­doeleindes.

Luchané Matthews, ’n graad 7-leerder van Sederberg Primêr, het ’n silwermedalje asook die prys vir die junior kategorie in voedselwetenskappe verower.

Jaco Coetzee van Curro asook die projekpaar, Hannah du Toit en Sinalo Ndeleni van die Hoërskool Vredenburg, het ook silwermedaljes gewen.

John-Paul Jeftas van Noordhoek Primêr, Olaf Fourie van Hoërskool Hopefield en die projekpaar Wildene Jakobus en Maclin Rudolph van Jurie Hayes Primêr asook Wiaan Fouché van Hoërskool Vredendal het almal brons medaljes vir hul onderskeie wetenskapprojekte verower.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025