Die Weskus se topatlete is Donderdag vir alles van atletiek tot tennis by die Saldanhabaai-sportbanket vir laerskole vereer.
Die banket, wat voorheen as die Weskus-laerskolebanket bekendgestaan het, het Donderdag leerders van onder meer Jurie Hayes, Laerkool Vredenburg, Curro Langenbaan, Eden Primêr, Diazville Primêr en Topolino vir hul harde werk beloon.
Laerskool Saldanha se gimnastiekspan was as die topspan van die streek aangewys.
Skaakuitblinkers van Laerskool Vredenburg, Curro Langebaan, Diazville Primêr, Topolino Privaat Skool en Eden Primêr is vereer nadat hulle Weskus-kleure ontvang het.
Vanjaar se rugbysterre was van Laerskool Saldanha, Steenberg’s Cove Primêr, Curro, Panorama Primêr, Hopefield Primêr, Hoërskool Velddrif, Topolino en Eden Primêr.
Chanelle Afrika van Laerskool Saldanha het baie pryse na ’n skitterseisoen opgeraap. Die gimnas het ’n eerste plek in die distrikkampioenskap, agtste plek in die provinsiale kampioenskap en 18de plek in die land gekry. Daar was 92 gimnaste wat aan die nasionale kampioenskap deelgeneem het. Chanelle is as die streek se beste sportmeisie aangewys. Met ’n eerste plek in brug, balk, spronge en derde plek vir haar vloeritems by ’n internasionale gimnastiekkompetisie vroeër vanjaar in Harare, Zimbabwe, is dit maklik om te sien waarom.
Chanelle neem ook deel aan atletiek en blink uit in baan- én velditems asook swem en netbal.
Chanelle se eweknieë vanjaar is Malachi Petersen, ook van Laerskool Saldanha, wat uitgeblink het in krieket, atletiek en rugby. Hy het die distrikspanne vir rugby en sewesrugby gehaal.
In atletiek het hy eerste plek in 80 m, 100 m, 200 m, 200 m-hekkies en 80 m-hekkies vir sy skool behaal.
Ander atlete wat uitgesonder is, sluit in Eden se rugbyspeler, Thurlon Williams, krieketuitblinker, Keanu Coetsee van Curro Langebaan en Hopefield Primêr se Lureesha Cleophas, wat tot op provinsiale vlak met haar netbal naam gemaak het.
Luciano Minnies van Diazville Primêr en Anika Valentyn van Langebaan Primêr het albei pryse vir landloop gewen nadat hulle vroeër vanjaar aan die nasionale landloopkampioenskap in Kimberley deelgeneem het.
Laerskool Vredenburg se twee rekordbrekers, veelsydige Cole Boyes en hekkiesatleet Minke Engelbrecht het die atletiekpryse opgeraap. Nóg ’n skitteratleet van Steenberg’s Cove, Gregon Mentoor is vereer nadat hy twee goue medaljes by die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap gewen het.
Medaljewenners vir netbal, atletiek, landloop, tennis, krieket, hokkie en tweekamp is ook beloon.
Dit was nie net die kinders wat met pryse weggestap het nie. Die onderwysers en afrigters wat vereer is, was Nola Brand (atletiek en netbal), Chris Nelson (atletiek), Konrad Toerien (atletiek), Nulani van der Merwe (netbal), Liezl Dreyden (netbal), Melvin Edwards (gimnastiek), Zalmarie Genis (gimnastiek), Deidré Booysen (landloop) en André Swarts (landloop).
Toerien is ook as die sportadministrateur van die jaar aangewys.