Noluvu Ludidi
Die geleentheid van ‘n leeftyd het op die pad van Carlin-Ann Cleophas gekom.
Dié jong netbalspeler en leerder aan die Hoërskool Vredenburg is deur Travel and Sport gekies om lid te wees van die o.18-netbal-7’s-span wat in Dubai aan die Arthur Johnson-sportweek gaan deelneem. Die toer sal tussen Woensdag 26 November en Donderdag 4 Desember vanjaar plaasvind. Volgens Carlin is dit vir haar ‘n groot voorreg om aan die toer te kan deelneem.
“Ek wil van die geleentheid gebruik maak om die volgende geslag netbal-
spelers te inspireer. Ek wil hê elke liewe meisie in die Weskus wat groot drome oor netbal het, nooit moet ophou droom nie en weet dat enigiets moontlik is.”
Carlin meen haar passie en liefde vir netbal het op laerskool begin en as sy terugkyk, was die hoogtepunt toe sy in gr. 7 as senter vir H.P. Williams Primêr se o.13-netbalspan uitgedraf het.
Carlin het al ver in haar netballoopbaan gekom en is in 2024 as o.15-netbalspeler vir die o.19A-netbalspan van die Hoërskool Vredenburg gekies. Sy is daardie jaar ook met die toekenning as beste junior netbalspeler vereer.
Maar haar tweede hoogtepunt is sonder twyfel die uitnodiging na Doebai om netbal te speel.
“Ek sien uit na die ervaring, want ek gaan nie net na ‘n ander provinsie, streek of land in Afrika nie, maar na Doebai, wat op ‘n ander vasteland is.
Om hierdie droom ‘n werklikheid te maak, het Carlin egter R55 490 nodig wat haar visum, vliegtuigkaartjie en vervoer insluit. Van Maandag 30 Junie tot Dinsdag 30 September moet sy elke maand ‘n
paaiement van R9 000 betaal.
Volgens haar ma, Alicia Cleophas, voel sy die geleentheid sal baie deure in die sportwêreld vir haar kind oopmaak, wat moontlik tot internasionale netbal kan lei.
Sy wil graag sien hoe haar dogter al haar drome haal • As jy Carlin wil help om haar droom te behaal, bel Alicia by 060 674 6225.


