Die nasionale skoleperdry-kampioenskap wink vir ’n Vredenburgse tiener wat maar vanjaar begin het om kompeterend te ry.
Juandre Strydom (17) se talent op ’n perd is vroeg al deur Elmarie de Clerck van die Equestrian Centre op Trekoskraal raakgesien.
Juandre se stiefpa het daar gewerk toe sy sewe jaar oud was. “Ek het opgelet sy het vreeslik talent en nie ’n banghaar op haar kop nie,” vertel Elmarie.
Die stiefpa is later weg, maar Elmarie en Juandre het kontak gehou en toe Elmarie hoor Juandre kon nie vir graad 9 plek kry in enige van Louwville se hoërskole nie, het sy aangebied om haar by Vredenburg Hoërskool in te skryf op voorwaarde sy kom bly deur die week by haar. Naweke is sy by haar ma Aloma Strydom in Louwville.
Dit was verlede jaar. Desember het Juandre vir die eerste keer op Algrande Midnight Sensation, ’n Vlaamse hings, se rug geklim.
In Januarie het Elmarie vir Juandre by die Sanesa-perdeskoukompetisie vir skole ingeskryf. Die senuwees het geknaag by die eerste kompetisie, maar van daar af het Juandre net eerste en tweede plekke ingeryg en dit teen gesoute ruiters uit die Kaapse Metropool en Weskusstreek. Haar skoolwerk het so saam-saam ook verbeter.
Nou het hulle pas gehoor sy is gekies om WP te verteenwoordig by die nasionale kampioenskap in Johannesburg in Oktober. “Ons en die hele familie is baie trots op haar. Ons moet haar net in Johannesburg kry,” straal Elmarie.
Hoewel Sanesa Juandre se inskrywing betaal, kos dit steeds baie om haar en haar perd daar te kry, verblyf en die uniforms te betaal. Enigeen wat wil help, kan Elmarie by 084 240 3560 bel.





