Jong model se droom word waar

Sy droom om ’n model op die loop­plank en voor die kameras te wees, het vir die Saldanha-inwoner André van Wyk ’n werklikheid geword.


Sy droom om ’n model op die loop­plank en voor die kameras te wees, het vir die Saldanha-inwoner André van Wyk ’n werklikheid geword.

Die 28-jarige se groot droom het vorm begin aanneem toe hy op sosiale media op ’n video afgekom het vir model- oudisies wat deur Exposé in die Bo-Kaap aangebied word. Van Wyk het sonder om twee keer te dink geweet hierdie is ’n teken en hy moet die kans met al twee hande aangryp.

Toe die dag van die oudisie kom, sê Van Wyk, was hy eers ’n bietjie huiwerig, maar met die motivering van sy vriendin het hy dit aangedurf. By registrasie het hy die nommer 86 ontvang – ’n nommer wat hy nooit sal vergeet nie. “Toe hulle my nommer roep, was ek nog op my senuwees, maar toe die musiek begin speel het alles verdwyn en die oomblik waarvoor ek jare gewag het, het gebeur,” vertel Van Wyk.

Hy het goed gevaar in die oudisie en amptelik deel van die Exposé-familie geword. Sy eerste keer op die loopplank was by die modelvertoning Renaissance, aangebied deur Exposé – iets wat hy as ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring beskryf.

Die gereis tussen die Kaap en Saldanha vir foto- en oefensessies en die skofte wat hy by Woolworths werk, het egter sy tol op sy liggaam begin eis. “Ek het myself oortuig ek kan albei doen, maar dit het toe nie so uitgewerk nie. Ek het nie meer tyd gehad om saam met my ouers en familie deur te bring nie en kon nie meer met my vriende sosiaal wees nie.

“Ek het begin alleen voel en moes ’n keuse maak tussen my werk en my loopbaan. Dit was moeilik en ek het rondgedraai oor die besluit wat ek moet neem; dit het my selfs slapelose nagte gegee.

“Ek het einde Mei by Woolworths bedank om voltyds aan my loopbaan te werk. My droom het alles kom verander; ek het nooit geweet alles sal in ’n oogknip verander nie.”

Dit was nie lank daarna nie toe nog ’n deur vir Van Wyk oopgegaan het toe hy die geleentheid kry om deel te wees van die modelagentskap Pulse Model Management in die Kaap, waar hy reeds vir die afgelope drie maande is.

“Dié drie maande het my geleer om altyd reg te wees as hulle jou bel vir ’n oudisie of casting. Ek het selfs by Zonefitness-gim aangesluit om fiks te bly en om [my] gesond te hou. Dit is nie altyd maklik nie, maar deursettings­vermoë is die beste eienskap wat jy op hierdie pad nodig het.”

Van Wyk sien daarna uit om sy ouers ’n gerieflike leefstyl te gee en wil selfs saam met Suid-Afrikaanse klerehandelsmerke werk. Maar vir eers wil dié jongman ander lande besoek met die groot droom om ’n internasionale model te wees wat sy land en tuisdorp sal kan verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.