Jong entrepreneur bied inspirasie

Van skoonmaker tot nou eienaar van sy eie eetplek. Marchel September van Vredenburg is die Weslander Entrepreneur van die maand vir Junie.


Van skoonmaker tot nou eienaar van sy eie eetplek. Marchel September van Vredenburg is die Weslander Entrepreneur van die maand vir Junie.

Junie is Jeugmaand. Marchel is op 33 nie net nog jonk nie, maar sy verhaal kan ook dien as inspirasie vir jong mense om hul drome na te volg.

Marchel is die eienaar van Daikato Enterprise, die sushi- en seekosrestaurant en wegneemeteplek in die Ipic-sentrum wat vroeër vanjaar daar oopgemaak het.

Agter die waarmaak van hierdie 12 jaar oue droom lê egter ’n lang pad van geloof, harde werk en die volgehoue ondersteuning van sy geliefdes.

’n Boorling van die Chemfos-myndorpie, Green Village, het Marchel se pa, al was die geld skraps, gesorg dat hy skoolgaan. Die jaar na hy sy matriek by Weston behaal het, is albei sy ouers ’n maand uit mekaar dood.

Met sy steunpilare weg, het Marchel vir jare sy heil “in die wêreld met ’n draaislag ook by dwelms”, soos hy dit stel, probeer vind. Tot hy sy vrou, Dehlia, ontmoet het “toe gee die Here my ’n nuwe steunpilaar, iemand wat my moed ingepraat het al is ons van different races”.

Hy het alles oor die gasvryheidsbedryf geleer eers by Mykonos Casino se destydse Boston BBQ restaurant, toe by Oystercatcher. By BBQ het hy hom opgewerk vanaf skoonmaker, tot braaier en toe kroegman. Hy het hom hierna gekwalifiseer as passer en draaier met die hoop op ’n beter salaris, maar toe hy middel verlede jaar met die insinking in die staalbedryf sy internskap kwyt is, het sy liefde vir kosmaak weer geroep.

“Die Here het vir my gesê ek het vir jou ’n talent gegee,” so toe begin hy verpakte sushi-etes vanaf sy huis verkoop. ’n Groot bonus was die kontrak om vir die onafhanklike verkiesingskommissie etes te voorsien. “Sonder geld, net geloof” het hy daarna in April vir Daikato, wat liefde en hoop in Japannees beteken, geopen.

Michael van Zyl het ingeval as chef saam met nou Belinda Isaacs, Devida Bosch, Francisca Williams en nou ook Laetisia Magerman wat onlangs aangesluit het.

Marchel het ook ’n jeugklub waar sowat 30 jong mense Vrydagaande bo sy eetplek byeenkom en Sondae word daar kerk gehou in ’n lokaal agter sy eetplek. Hy ondersteun ook ’n plaaslike skuiling vir mishandelde vroue.

Sy raad aan jong mense met drome is om daarvoor te hoop, hard te werk, goeie beplanning te doen (Daikato het ses maande se beplanning geverg) en “onthou jy kan niks sonder die Here doen nie”.

“Drome word nog waar, maar kos harde werk.” Een van die beste dinge in besigheid glo Marchel is ’n positiewe gesindheid.

You need to be Logged In to leave a comment.