Al is hy deesdae ‘n bekende gesig op die kassie, is hy intens bewus van die opofferings wat dit gekos het om te kom tot waar hy vandag is.
So skryf André Smith, ‘n medewerker van Weslander, oor Ashley Auldrinn Riddles (26), ‘n Weskusklong met sy komvandaan Saldanha.
Hy het nog tot onlangs die rol van Shakiel Cloete in die gewilde Afrikaanse telenovelle Skemergrond gespeel.
Hoewel hy tans in Blackheath in die Kaap woon, kom kuier hy nog gereeld by sy ouers in Vredenburg.
Smith het meer by hom gaan uitvind oor sy akteursloopbaan en die pad wat hy gestap het tot hier:
Kan jy ons meer vertel oor wie die mens agter die opkomende akteur is?
“Ek is ‘n baie sportiewe mens en was in my jonger dae baie atleties. Ek is ook ‘n rugby-
speler en het die Weskus-ligatitel in 2018 saam met die span van Saldanha gewen. My eerste werk ná skool was by U-Save in Vredenburg, waar ek rakke gepak het voordat ek in 2019 Kaap toe verhuis het.”
Hoe het jy jou grootword- jare ervaar en watter waardes het dit in jou vasgelê?
“My grootwordjare was nie die beste nie, maar ek het ten minste baie liefde en ondersteuning van my familie ontvang. My pa is in die weermag. Ons het eers by die Saldanha- vlootbasis gewoon en in 2012 na die Langebaanweg-lugmagbasis verhuis.
“Ek moet sê in Langebaanweg het my lewe drasties verander met die vriende wat ek gemaak het. Hulle (my vriende) het my baie goed beïnvloed. Daar was baie sportiewe jongmense na wie ek opgekyk het, al was ek ouer as die meeste van hulle. Ek het baie by hulle oor en van my liefde vir sport geleer. Ek het hierdie lesse gekoester en dit saam met my die toekoms in geneem. Ons moeilikste ervaring as ‘n familie was sekerlik toe ek vir twee operasies aan my oor gegaan het. Dit het daartoe bygedra dat ek in 2011 my gr. 7-jaar moes herhaal. Ek was maar min in die skool aangesien ek gereeld in en uit die hospitaal was. My punte was daarom nie juis bogemiddeld nie.”
Gepraat van jou skoolloopbaan… kan jy ons ‘n bietjie meer hiervan vertel en wat jy ná skool gaan doen het?
“My laerskoolloopbaan het by die Laerskool Saldanha begin, waar ek ook my swemtalent ontdek het. Ek was ‘n kranige swemmer; ek het altyd aan die swemkompetisies deelgeneem, waarin ek rugslag geswem het. My liefde vir rugby het ook daar begin.
“In 2013 het my hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Louwville begin. Dit was destyds ‘n nuwe skool wat in 2012 geopen is. Ek het in 2017 gematrikuleer. Ons was die eerste matrieks in die nuwe Hoërskool Louwville-gebou.
“Ná skool het ek vir ‘n kort tydjie sakebestuur by Weskus-kollege studeer, maar sommer in die eerste semester al uitgeval. Dis hierna dat ek ‘n werk by U-Save in Vredenburg gekry het om rakke te pak. Toe ek in 2019 Kaap toe trek, het ek by Blackheath Primary konstruksiewerk gedoen. Dit was gedurende die tydperk toe die nuwe Blackheath Primary School gebou is.
“Dis in dieselfde tydperk toe my tante my van City Varsity vertel het. Ek het vir die drama-kursus by City Varsity ingeskryf en die kursus ná vele uitdagings voltooi. Dis hier dat my liefde vir drama begin het.”
City Varsity en Covid-19
“Covid het in my tyd by City Varsity toegeslaan. Ek was verplig om my studies tydelik te staak omdat ek nie juis die geld gehad het om verder te studeer nie. Dis in daardie tydperk dat ek ‘n oproep van Paul Venter en Jaco Laubscher, die vervaardigers van Homebrew Films, ontvang het. Hulle het my toe ‘n werk by een van die gewildste sepies in die land – Suidooster. – aangebied. Ek het eers as ‘n kameraassistent begin en opleiding ondergaan om boom operator (klank) en extra coordinator te wees. In 2023 het ek bevordering gekry by Suidooster om in die kunsdepartement te werk waar ek props vir die akteurs moes aandra. In daai tyd het ek steeds bly glo dat my geleentheid om ‘n akteur te word, sou waar word deur net met die oog te steel hoe die akteurs hulle vir hul tonele voorberei.
“Akteurs soos Dean John Smith, Gantane Kusch, Portia Joel, Theodore Jantjies en selfs die jong Jadon Booysen het my baie geïnspireer. Ek is vandag steeds dankbaar dat ek so baie by Suidooster geleer het. Mense soos Jawaahier Petersen het my altyd gemotiveer om aan te gaan en te bly glo. Sy het altyd gesê dat ek dit binne die volgende vyf jaar groot sal maak in die bedryf en ek hou steeds vas aan daai woorde.”
Ná jou dramakursus by City Varsity het die “magic” begin gebeur. Vertel ons meer hiervan.
“Ek moet bieg en sê dat acting nie my eerste liefde in die bedryf is nie. Ek wil graag eendag ‘n regisseur word. Maar ná die dramakursus wat ek by City Varsity gedoen het, het die gogga my gebyt en ek het op die beroep verlief geraak. Die lekkerste gedeelte van my werk is om op stel te werk. Ek geniet dit baie! Dis veral vir my ‘n groot voorreg om met gesoute akteurs soos Dan Jauque Mouton, Nazli George en vele ander saam te werk. Uitdagings van die werk is om altyd voorbereid te wees en altyd karaktergetrou op stel te kan bly… om lewe te gee aan ‘n karakter.
“My grootste prestasie is sekerlik my eerste televisie-rol in Skemergrond as ‘n akteur. Nog ‘n prestasie was om my eie kortfliek in ‘n ‘1-minute Short Film Festival’ te wen.
“My ma speel ‘n groot rol in my sukses, want al kan sy my nie alles gee nie, is sy die een wat kliphard bid vir my. Ek glo vas al het ‘n mens min, maar jy het ‘n biddende moeder, is jy al klaar ryk. My ma het altyd voor skool gesê ek is “meer as ‘n oorwinnaar” en destyds het ek nie geweet wat dit beteken of hoe baie dit vir my beteken om daai woorde te hoor nie. Vandag verstaan ek haar woorde en weet ek wat dit vir my beteken.”
Hoe en waar is jy in jou gemeenskap betrokke?
“Ek is tans by die Blackheath-rugbyklub betrokke. Dit is die Police Blackheath Rugby Club wat ons sowat drie jaar gelede gestig het. Ek speel rugby vir ons klub en is ook deel van die klub se bestuur. Een van die groot doelwitte is om eendag ‘n afrigter van ‘n rugbyspan te word. En al is ek nie meer fisiek in die Weskus nie, sal ek steeds daarvan hou dat hulle my as een van hulle beskou. En natuurlik doen ek my bes om hulle steeds trots te maak.”
Daar is so baie jongmense wat ook graag wil uitstyg in die lewe. Wat is jou boodskap van hoop aan hulle?
“Moenie net vaskyk teen dit wat jy op televisie sien nie.
“In my grootwordjare het ons as familie baie swaarkry beleef. Daar was tye toe ons so mismoedig was.
“Daar was dae toe daar min was om te eet, maar ons as familie het saamgestaan. Moenie te hard wees op jouself nie. Wees geduldig. Die Here sal op die regte tyd die regte deure vir jou oopmaak.”
Wat hou die toekoms vir Ashley in?
“Ek sal baie beslis nog kort- flieks wil skiet. Ek wil ook nog steeds op my rugby fokus en beplan om my afrigtingskursus in rugby te voltooi,”sluit hy af.
Hy het die nasie se harte gesteel met sy verskyning as akteur in die Afrikaanse sepie Suidooster. En toe slaan hy ‘n rol los in die telenovelle, Skemergrond. Albei geleenthede het nie maklik gekom nie. Dit het met baie opofferings, deursettingsvermoe, ‘n leersame gees en die wil om te waag gepaard gegaan.
Ek wil my verstout om te noem dat die naam Ashley Riddles nog baie op televisie, radio en – noem maar op – gesien en gehoor gaan word!
Een ding is egter gewis en dit is dat hy wat Ashley is, altyd gemotiveer sal word deur die woorde van sy ma: “Onthou, jy is meer as ‘n oorwinnaar, my kind.”
Geen wonder dat dit ook sy gunsteling-slagspreuk is nie – deur al hierdie dinge is ons “meer as oorwinnaars”.